Subscribe by Email

Super 15 – Laaste derby’s volgende week dalk bepalend

Na ‘n eerste helfte waar dit gelyk het of die Sharks werklik hul vermoë kwyt is om wedstryde sonder die hulp van ‘n skeidsregter te beklink, het die Haaie in die tweede helfte die Lions met vernuftige hardloopwerk in spasies in, amper ‘n uitklophou toegedien.
Die Sharks kan. En volgende naweek sal die Bulls ook hul lywe moet vetsmeer om nie lelik seer gebyt te word nie.
Springbokbreier Peter de Villiers het homself reeds volledig met John Smit gekompromiteer as kaptein en as haker, maar gister was Smit onder die eerstes wat omgeruil is om die Sharks se wedstrydkanse lewend te hou. Bismarck du Plessis het met verwoede spel gewys dat hy die haker in die saal is.
Op Nuweland het die Bulls ‘n naelskraapse oorwinning behaal, en ‘n hele paar manne wat reeds uit De Villiers se verkleinde groep weggelaat is, het hard op die breier se liddorings kom trap.
Die Stormers kan nie meer in die Suid-Afrikaanse konferensie ingehaal word nie, en die Cheetahs sal op die Vrystaatstadion wag om te wys waartoe hulle werklik in staat is. Niks is onmoontlik nie, maar die Stormers het min swak plekke, terwyl die wedstryd rondom ‘n hele rits spelbrekers skielik kan vlam vat. Vir die Cheetahs sal ‘n oorwinning oor die Stormers die kroon span op ‘n seisoen wat stram begin het, maar in die pylvak mooi stoom opgebou het.
Uit die kommentare en berigte wil dit voorkom of die Suid-Afrikaanse skeidsregters dié keer werklik hard probeer het om behoorlike beslissings te fel. Die manier waarop bepaal gaan word wie in die uitspeelrondtes gaan speel, en waar die plasing op die punteleer nie noodwendig ‘n span se deelname verseker nie, bied die geleentheid om SA-spanne wat met onbehoorlike skeidsregteroptredes die binnebaan gehaal het, se turf te laat sit.
Herman Toerien