Subscribe by Email

Suid-Afrikaner help ontwikkeling van pyl en boog ontrafel

‘n Suid-Afrikaanse argeoloog, prof. Marlize Lombard van die Universiteit van Johannesburg, het saam met dr. Miriam Haidle van die Heidelbergse Akademie in Duitsland vasgestel oor hoeveel ontwerpersvaardighede die vroeë mens moes beskik het.

Die projek, wat deur die Duitse Tübingenuniversiteit geborg is, het veral na die ontwerp van die pyl en boog gekyk.

Na raming het die mens sowat 64 000 jaar gelede die vervaardiging van die pyl en boog bemeester. Presies hoeveel vaardigheid dit geverg het, blyk daaruit dat tien verskillende soorte gereedskap nodig in om die pyl en boog te maak, en dat sowat 22 materiale en nog drie halfverwerkte materiale nodig is om die boog te maak.

Die vroegste oermense wat gereedskap kon maak om ander gereedskap mee te maak, het sowat twee n ‘n half miljoen jaar gelede geleef, terwyl die eerste mense wat gereedskap kon maak wat uit verskillende dele saamgestel is, soos ‘n spies met ‘n houtsteel en klip-punt, sowat 300 000 tot 200 000 jaar gelede geleef het.

Die artikel verskyn in die jongste uitgawe van Cambridge Archaeological Journal.

‘n Vroeëre vonds deur ‘n span navorsers onder die leiding van prof. Lyn Wadley van Wits by die Sibudugrot in die noorde van KwaZulu-Natal, toe oorblyfsels van pyl en boë van 64 000 jaar gelde gevind is, maak ‘n belangrike deel uit van die jongste navorsing. Prof. Lombard was toe deel van die span. Met dié vonds is die ontwikkeling van die pyl en boog met minstens 20 000 jaar teruggeskuif.

Dié vonds, en ook vondste by Blombos, het die wetenskaplikes sterk oortuig dat die mens 60 000 tot 70 000 jaar gelede reeds oor sterk kognitiewe eienskappe beskik het. Dit het ook gelyk of daar lang tye in die mens se geskiedenis was dat die mens nie pyl en boë gebruik het nie, en dat dit dalk gereeld herontwerp is.

Bronne: http://www.sciencedaily.com/releases/2012/06/120625064620.htm

http://www.uj.ac.za/EN/Newsroom/News/Pages/Stone-Agearrowsfound.aspx

Foto: Prof. Marlize Lombard, UJ

Herman Toerien