Subscribe by Email

Stutgedagtes oor Smit begrawe?

Het Springbokafrigter Peter de Villiers nou die lig gesien en besluit John Smit sal nie meer op stut ingespan word nie?

Op die oog af lyk dit so nadat die Springbokspan vir Saterdag se toets teen die All Blacks bekend gemaak is, en twee stutte op die reserwebank ingesluit is. Smit self sit op die plaasvervangersbank.

Die stutte wat in die beginspan op die veld draf, is Jannie du Plessis en Gurthro Steenkamp. Die Beast en CJ van der Linde is op die bank. Dit beteken dat net twee agterspelers op die plaasvervangerbank sit – Francois Hougaard en Butch James. Veral Hougaard is baie veelsydig.

Morné Steyn is een van vyf veranderings in die span, en sal weer stelling op nommer tien inneem. Steyn is al weggelaat omdat hy vanjaar sukkel om sy snellers weggestuur te kry, en dit is seker dat die All Blacks hom sal probeer ontsenu.

Patric Lambie vervang die beseerde Frans Steyn op heelagter. Terwyl niemand oor Lambie se vermoëns twyfel nie, is dit of hy nog nie vanjaar heeltemal die spelbreker kon word wat hy verlede jaar was nie. ‘n Rondvallery oor sy beste speelposisie het waarskynlik heelwat hiermee te make. Lambie sal ook weet dat Conrad Jantjies op die oomblik stewige heelagterspel vir die WP lewer.

Met Smit op die bank, is Victor Matfield weer die kaptein.

Ashley Johnson se insluiting op die bank beteken die Cheetahs sal weer Saterdag teen die Pumas diep in hul losvoorspelerdiepte moet delf. Beserings maak dit nie maklik nie, maar gelukkig is Boom Prinsloo en Philip van der Walt weer slaggereed, en is daar ‘n kans dat Juan Smith – as die dokter sy kop knik – ‘n speelkansie kan kry.

Intussen begin veral die manne Doer Onder weer kliphard die Springbokspan kies, en veral die insluiting van Smit is hoog op die spyskaart. Teen dié tyd het Suid-Afrikaners darem seker al geleer die manne van Australasië is nie uit barmhartigheid so vrygewig met hul advies nie – hulle probeer keer dat sekere spelers teen hulle ingespan word.