Subscribe by Email

Studente verf hulself swart, eis toelating vir toppresterende leerlinge

Studente gaan saam met ʼn afvaardiging van AfriForum Jeug hulself op Maandag, 30 Januarie 2012 swart verf voor die departement van hoër onderwys en so protes aanteken teen die rasseteikens wat dié departement vir die Universiteit van Pretoria (UP) se Fakulteit Veeartsenykunde stel.

AfriForum Jeug verteenwoordig tans sowat 30 leerlinge wat gesamentlik 190 onderskeidings in matriek behaal het en wat weggewys is by die UP se Fakulteit Veeartsenykunde weens “swak akademiese prestasie”.

“AfriForum Jeug, studente en ouers gaan protes aanteken teen die toelatingsproses vir veeartsenykunde in Suid-Afrika. Aangesien dit die enigste fakulteit van sy soort in Suid-Afrika is, plaas dit ‘n unieke verantwoordelikheid op die departement om die beste presterende leerlinge ‘n geleentheid te gun om die vaardigheidstekort aan veeartsenykunde in die land te verlig,” het Charl Oberholzer, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, gesê.

Volgens Oberholzer het studente die reg om hulle loopbaan van hulle keuse te volg, en is die doel van dié aksie om hierdie reg op te eis. “Die rasseteikens wat aan die Fakulteit gestel word sluit dus talle wit studente uit en beperk hulle reg op die keuse van loopbaan,” sê Oberholzer.

Nadat AfriForum Jeug ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting die UP gedwing het om inligting bekend te maak oor waarom hierdie leerlinge nie toegelaat is nie, het die universiteit aangedui dat die departement van hoër onderwys rasseteikens stel en dat hulle daarvolgens finansiering ontvang. Die departement se oogmerk is dat die Fakulteit Veeartsenykunde by die UP die nasionale demografie moet weerspieël.

“Jongmense wat eers in 1993 gebore is, moenie gebuk gaan onder rasgedrewe beleide nie. Hulle verdien ʼn billike geleentheid en hulle waardigheid word aangetas wanneer hulle in raskategoriëe ingedeel word,” sê Oberholzer.