Subscribe by Email

Studente en die onlustepolisie bots in Johannesburg se strate

bn-kw321_safees_p_20151021123654Studente van die Universiteit van die Witwatersrand en swaargewapende onlustepolisielede het in die strate van Braamfontein, Johannesburg, met mekaar gebots. Die polisie het die betogers met skokgranate en traanrook probeer dwing om na die kampus terug te keer, maar sommige het daarin geslaag om na Braamfontein terug te keer. Paramedici is ingeroep om beseerde studente te behandel. Die polisie sê hulle het nie toestemming gehad om buite die kampus te betoog nie.

Die Universiteit Stellenbosch het volgens berigte elf van 31 studente geskors teen wie ‘n interdik bekom is weens die betogings. Bestuur kon nog nie dié berig bevestig nie.

Solidariteit sê hy is bekommerd dat die gebrek aan optrede deur die Universiteit Pretoria se bestuur bydra tot die feit dat ‘n klein groepie ontwrigtende elemente die veiligheid van ander studente en personeellede bedreig. Woordvoerder Johan Botha sê die instelling is verplig om veiligheid op kampus te verseker.

Die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, sê as hy minister van Onderwys was en gewelddadige betogings woed voort, sou hy universiteite vir ses maande sluit om studente ‘n les te leer. Hy het op die klerewerkersvakbond Sactwu se nasionale kongres in Johannesburg gepraat. Mantashe sê ‘n krisis moet soms verdiep om dit op te los, en het beklemtoon dat regte met verantwoordelikhede gepaard gaan.