Subscribe by Email

Stryd van die kortbroeke – 4 miljoen twiets

Na die eerste openbare debat tussen pres. Barack Obama en sy Republikeinse teenstander, Mitt Romney, onverwags baie nuwe lewe in Romney se verkiesingsveldtog geblaas het, was daar ongewoon baie belangstelling in gisteraand se debat tussen die twee vise-presidentskandidate, vise president Joe Bidden en sy uitdager, Paul Ryan.

Tradisioneel word die debat tussen die kortbroeke as bykans onbenullig afgemaak, maar na die swaai wat Romney bewerkstellig het, was daar skielik baie belangstelling. Die debat het vier miljoen twiets opgelewer.

Kenners is dit eens dat die twee kandidate se stryd baie gelykop was, en dat beide hul presidentskandidate goed verteenwoordig het. Nogtans het ‘n CNN/ORC-peiling na die debat aangetoon dat 48 persent van die kykers gemeen het Ryan het die beste daarvan afgekom, terwyl 44 persent weer meen Bidden het die botoon gevoer.

Die belangrikste nuus vir die Republikeine is dat Ryan verras het met die gemak wat hy buitelandse sake en verdediging, naas binnelandse kwessies soos die ekonomie en aborsies hanteer het. Dit dui daarop dat die Republikeine se adviseurs begin om die nodige kennis oor buitelandse sake by die kandidate te vestig.

In die Amerikaanse federale bedeling is die magte van die president en kongres grootliks tot buitelandse sake, verdediging en sekere maatskaplike sake beperk. Die eerste debat tussen Romney en Obama het egter slegs oor binnelandse sake gehandel, waar Romney, goewerneur van die deelstaat Massachusetts, maalvleis van ‘n valerige Obama gemaak het.

Hierteenoor het Romney reeds ‘n paar belangrike flaters oor buitelandse kwessies gemaak, en die verwagting was dat Obama in die volgende debat die bordjies sou verhang wanneer buitelandse sake aan die beurt kom. Nou lyk dit egter of die adviseurs daarin geslaag het om voldoende kennis oor te dra.

Foto: AP