Subscribe by Email

Strand gesluit na haai aanval

Die Oos-Strand in Port Alfred is gesluit na ’n haaiaanval vandag. Brendan Denton, 35, het saam met ’n vriend branderplank daar gery, toe ’n haai hom aangeval het. Die voorval het ongeveer 100 meter van die strand plaasgevind. Kaptein Mali Govender van die polisie het met Denton gepraat in die Port Alfred hospitaal.

Volgens Denton het hy gevoel iets trek hom aan sy voet onder die water in. Hy het eers gedink dat dit sy vriend was dat met hom speel. Die tweede keer toe hy onder die water ingetrek word, sien hy toe sy eie voet in die haai se bek. Denton het met die haai begin stoei en die haai het sy voet gelos, maar die tou wat om sy enkel vas was, beetgekry en dieper see-in begin swem met Denton op sleeptou agterna.

Denton het egter kop gehou en die tou om sy enkel losgewikkel en gelukkig kon hy terugklim op sy branderplank om terug te roei na die strand. Sy vriend en omstanders wat hom hoor gil het, kon hom help om by ’n dokter uit te kom.

Govender sê dat Denton se beserings ernstig lyk. Op pad na die teater in die hospitaal, het hy geen gevoel in sy voet gehad nie.