Subscribe by Email

Stoep-gedagtes – Nou wat vir ‘n “dinges” is dit die?

Vandag was een van daardie lieflike lente dae hier gewees. Ek kon dit buite waag sonder dat die reën of die wind my terug onderdak wou jaag.

Sit ek so en dink aan die jaar 2013 en die matrieks van hierdie jaar en jou waarlik kom daar so ‘n klein duiweltjie op my skouer sit en fluister saggies… “Toe, toe, jy is mos nie bang nie… Skryf dit… kom nou! Wat kon ek dan nou anders doen as om onder die geweldige druk te swig en die sleutelbord te betrek.Oupa_Teddie_01

Ek het seker hierdie gesprek nie minder nie as sewentien keer gehad. Aag ek sê maar sewentien dan klink dit of ek werklik telling hou. Dit handel oor die matrikulante van 2013 en ook sommer so oor ouers in die algemeen, veral daardie ouers wie se telge in die vreeslike duur privaat snob skole is. Ek wonder hoeveel van hierdie “nouveau riche” ouers het al die moeite gedoen om gedurende die afgelope jaar net vir een dag of aand te gaan sit en na hulle nasate te luister. Ai die woord telg is tog so ‘n lekker woord en dit is nogal verstommend hoe min mense weet wat dit beteken. Meeste van hierdie NR-klub lede (dit is nou die “nouveau riche klub”) het nie ‘n idee wat in die lewe van hulle se telge aangaan nie, veral as dit by skool en die studies kom.

Dink ek so aan die klas van 2013 dan word ek yskoud. Nou waarom sou ek yskoud raak dit is dan al amper somertyd en mens kry mos nie koud in die somer nie. Yskoud seg ek vir jou omdat daar met die komende eksamens weer leerders gaan wees wat nie ‘n groen vy weet wat in die betrokke vak aangaan waaroor hulle moet eksamen skryf nie. Dit is juis wanneer dit by die spelreëls van die tale kom. Kyk, ek is nie een wat vreeslik hou van uitgerekte verduidelikings nie, maar hierdie verkorte vorm van taalgebruik wat die leerders vandag besig is ietwat erg. Dit is hierdie SMS taal wat so-by-so net uit akronieme bestaan. CU @ PnP. Wa U d’in? Wa mak j? Moet my nou nie verkeerd verstaan nie, ek besef dat dit geld kos om “lang hand” te skryf, maar party van hierdie terme is darem verregaande. Hierdie “spinnekoppe” het mos die manier om in die skryftaal in te kruip. Ek lees maar net so by tye op Faceboek (Ja dit is glo hoe mens die ding op Afrikaans noem) wat die jongmense te vertel het en dis dan wat die koue sweet my eers afloop om nie van ‘n naderende sooibrand te praat nie. Dit is dan waar sekere woorde so verkeerdelik gebruik word dat ek bevrees is as die hond dit moet inkry vrek die ding net daar. So, ons eerste probleem met die klas van 2013 is dat hulle nie behoorlik kan spel nie.

Tweedens kan hulle nie somme maak nie. Ek wil nog ‘n leerder vandag sien wat ‘n paar syfers kan optel sonder om ‘n “kelkelateur” te gebruik. O, en dan moet daar nie sprake van vermenigvuldiging of nog erger deling wees nie. Ek hou die jeug daar in die winkels dop as hulle “shopping” doen. Daar is bitter min van die jongmense wat al geleer is hoe om te “shop”. Onthou net, ma behoort aan die NR-klub en sy weet nie veel van die term “pryse vergelyk” nie, daarvoor is sy te besig om ander NR-klublede te probeer imponeer. Haar man het per slot van rekening vir haar ‘n goue Visa / Mastercard gegee. Waarom sal sy ‘n minderwaardige “NO NAME BRAND” item in haar trollie plaas. Sy sal liewer die bergie op die hoek gaan soen voor sy so verneder sal wees as om “NO NAME BRAND” items te koop. Des te meer leer die telge nie hoe om te “shop” nie want hulle kan nie tel of hoofrekene doen nie. Ek daag enigeen uit om vir ‘n jeugdige te vra wat is die beste kopie tussen ‘n pak suiker van 2kg teen R16.00 en een van 2.5kg teen R19.50. Behalwe dat hulle nie kan uitwerk nie, is daar maar min wat weet dat die pryse goed vergelyk kan word deur net op die rak na die etikette te loer.

Okey, ons sit nou al met die klas van 2013 wat nie kan spel nie en ook nie kan somme maak nie. Kan hulle darem lees sal jy vra. Ek is nou al so-by-so net kort duskant kouekoors van al die ysige sweet wat my afrol en my binneste is aan die brand van die sooibrand, my hemp se knope is besig om af te roes…. Gee vir enige klas van 2013 leerder ‘n tydskrif en vra hy moet dit hardop lees. O goeiste, behalwe dat die uitsprake rillers is, word geen sin vloeiend gelees nie. Leestekens word hanteer soos verkeerstekens wat nie gesien word nie. Skrikwekkend. Dan kan die arme bloedjies mos nie woorde klank nie.

Wel, ons het heelwat verder gevorder, ons klas van 2013 kan nie spel nie, kan nie tel nie en kan nie lees nie… Maar kom die uitslae dan is hulle deurgesit sodat hulle net asseblief nie weer terug skoolbanke toe moet gaan nie. Dus sit ons met mense wat die lewe moet aanpak wat nie kan spel nie, nie kan tel nie, nie kan lees nie en hulle het ‘n sertifikaat wat die teendeel sertifiseer, en dan wil julle by my weet waarom ek koue sweet en sooibrand moet trotseer.

Einde is het niet. Wat vir my baie treffend is, is die woord “dinges” of “ding”. Luister maar as die klomp in gesprek met mekaar is, dit is nou as hulle nie mekaar SMS, BBM of Whatsapp nie. Sodra iemand nie op ‘n woord kan kom nie dan word die woord “ding” of “dinges” gebruik. So hoor jy gesprekke wat iets soos die klink: “Weet jy daai juffrou, uh, uh, “Dinges” het alweer daai.. uh.. uh.. “ding” gesê net voor Mnr. Uh uh “Dinges” ons oor die “dinges” geroep het. Terloops gee gou daai uh uh “dinges” aan seblief. “Moenie makie” mens. Daardie woord, dis nou “dinges”, is darem maar ‘n vreeslike lekker woord, Dit behoort sommer aan al die woord groepe of tipes. Dan kom dit weer by my op en en wonder hoeveel ouers stop hulle telge net daar en vra dat hulle die storie oor moet vertel en ie regte woorde gebruik en vir “dinges” los.

Ongelukkig laat ons as die “establishment” mos maar die watertjies oor die akkertjie loop. Die NR-klub lede het nie tyd om oor sulke beuselagtighede te “worry” nie. Dit bring my by ‘n ander broertjie dood wat deesdae so kop uitsteek. Dit is die verkleinwoordjies. Kom jy bv. by ‘n dokter ingeloop dan verloop die gesprek iets soos:

“More mevroutjie. Aag sal jy net vir ons die vormpie voltooi. Of toemaar ek sal sommer dit gou doen. Wat is die naampie. En die geboorte datumpie. O, ja en die kontak nommertjie”. Hoeveel jaartjies is jy oud?

O my gedorie ware gortsop gedaante, wat is dit met die mensies. Hoor ek oor die radio die naweek: “Stuur net vir ons ‘n SMS’ie en ons sal terug bel.” ‘n SMS’ie, verbeel jou. Is dit nou ‘n SMS boodskap wat van ‘n klein foontjie gestuur word?

Dan wil mense weet waarom ons opvoeding so agteruit gaan en hoekom leerders so maklik hulle studies vaarwel roep en professionele boemelaars word.

Sit ek eendag by ‘n koffie winkel en wag vir ‘n kliënt toe loop daar ‘n paar NR-klublede in. Dis nou tyd vir hulle gebruiklike oggend sessie waar hulle ‘n stuk koek verorber en dan gebottelde water drink sodat hulle die figuur kan dophou. Gooi ek maar vark-oor om te hoor waaroor die “gossip” vandag gaan. Seg die een dat haar seun besig is met medies by die universiteit. Hy is glo baie skrander en slim en hy het reeds die jaar “geCUM”! Antwoord die ander lid van die groep: “Ja my dogter is ook besig om te studeer maar sy het nie daardie vak waar “swot” nie!”

Nodeloos om te sê dat die kelner ‘n lap moes bring want my sterk, swart, soet, filtreer koffie het oor die tafel gesproei gelê.

As jy oor hierdie situasie saam kan glimlag, dan is dit dalk tyd dat jy iets doen om hierdie toedrag van sake te probeer red, al is dit net om te luister hoe mense die taal misbruik en hulle help indien hulle sulke flagrante (lekker woord daai) flaters begaan. Sjoe hoe hoogdrawend raak ek dan nou…

 

Groetnis tot die duiweltjie weer op my skouer kom sit en my oortuig om my gedagtes hier op die stoep neer te pen… lol & cu l8r

Geskryf deur Oupa Teddie

 

 

 

2 Responses to Stoep-gedagtes – Nou wat vir ‘n “dinges” is dit die?

  1. Marcel Upfold

    Oktober 2, 2013 at 6:59 am

    Joos, inteendeel, nee niemand word betaal nie. Hierdie is plasings onder die hofie VERMAAK en moet in daardie konteks gesien word.

    Indien jy dink dit wat daar geskryf is, is verkeerd of verregaande dan wil ek graag weet waarom word daar tans gekibbel om die slaagsyfers van matrikulante te verhoog.

    Let daarop dat hierdie tipe plasing met ‘n tong in die kies gedoen word. Ek hou van die woordkeuse wat jy het.. KOMMIN… ja dit is sekerlik kommin as jy dit so wil etiketteer, maar dit het reaksie ontlok. Dit is presies wat die oogmerk is.

  2. Joos

    Oktober 2, 2013 at 6:43 am

    Ek hoop nie jy word vir die kommin opstelpoging betaal nie.