Subscribe by Email

“Sterf gouer” sê Japannese minister

Japan se adjunk-premier en minister van Finansies, Taro Aso, het bejaarde Japannese gevra om gouer te sterf.

Aso, wat self 72 somers agter die blad het en ook reeds premier was, is bekend daarvoor dat hy nie ‘n wag voor die mond aanhou nie.

“Wanneer jul uur aangebreek het, moet julle die genadedood toepas,” sou Aso glo gesê het. Hy het dit veral aan mense gerig wat medikasie gebruik.

“Haas julle om te sterf.”

Die vergrysing van die Japannese bevolking plaas ernstige druk op die maatskaplike sorgstelsel. ‘n Derde van Japan se bevolking is sestig of ouer. Na raming is meer as 50 000 Japannese ‘n honderd jaar oud of ouer.

Japan se bevolking het verlede jaar die sesde agtereenvolgende jaar gekrimp. Daar was verlede jaar net 1,03 geboortes in Japan – die minste sedert die Tweede Wêreldoorlog, terwyl 1,24 mense gesterf het.

Die skerp toename in honderjariges en afname in geboorte onderstreep die probleem van vergrysing.

Herman Toerien