Subscribe by Email

Stellenbosch het die potensiaal om net so belangrik te word as die Napa-vallei

“Stellenbosch het die potensiaal om net so belangrik te word as die Napa-vallei,” sê Clay Gregory, president en hoof uitvoerende direkteur van Visit Napa Valley. Gregory, wat op 1 en 2 November die hoofspreker was op die Business of Wine and Food Tourism-konferensie op Stellenbosch, is van mening dat Suid-Afrika reeds oor die nodige vaardighede en bates beskik, maar tans die beleggings kort.

“Julle het die wyn, die mense en die natuurskoon om enige wyntoerismestreek ter wêreld die stryd aan te sê, maar Suid-Afrika moet meer aan bemarking bestee om die streek voorop in reisigers se geheuens te hou,” sê hy.

Marknavorsing deur Destination Analysts van San Francisco, namens Visit Napa Valley, het getoon dat 3,3 miljoen toeriste die streek in 2014 besoek het, ’n toename van 11% oor die vorige jaar. Hulle het $1,63 biljoen (R22,82 biljoen) uitgegee waarvan $1,2 biljoen (R16,8 biljoen) in hotelle bestee is. In teenstelling hiermee was die hele wyntoerismebedryf in die Wes-Kaap slegs $358 miljoen (R4,8 biljoen) werd in 2013, aldus Conningarth Economists.

Die grootte van die globale wynreismark word beraam op $17 biljoen (R238 biljoen), terwyl die kulinêre reismark op $25 biljoen (R350 biljoen) beraam word. Dit het die plaaslike toerisme-entrepreneur, Margi Biggs, aangemoedig om Suid-Afrika se eerste Business of Food and Wine-konferensie te belê. Haar doel is om insig en praktiese inligting te voorsien wat nie net Stellenbosch nie, maar die hele bedryf kan gebruik om die besigheid van wyntoerisme uit te bou en sy ontsaglike potensiaal te verwesenlik.

In ’n onlangse artikel, gepubliseer op www.hotelexecutive.com, verduidelik Erik Wolf, die uitvoerende direkteur van die World Food Travel Association: “wanneer ons na die ganse planeet kyk, is daar min destinasies met onderontwikkelde potensiaal wat uitstaan en voedsel- en drank-reisigers trek. Hierdie bestemmings sluit in Pole, Ecuador, Chili, Suid-Afrika, Finland en Ysland, om ’n paar te noem. Wat kwalifiseer hierdie destinasies as opkomend? Die redes is veelvuldig en sluit in kwaliteit, diversiteit of uniekheid van plaaslike produkte; die entrepreneuriese neiging van die voedsel- en drankvervaardigers en verskaffers; asook die gereedheid van die destinasies om reisigers te ontvang.”

Gregory is een van vier internasionale sprekers op die konferensie. Die Australiër, Peter McAtamney, wat ’n internasionale wynkonsultasiebesigheid bedryf, sal praat oor die skep en aanbied van ’n wyn-, kos- en toerisme-ervaring van wêreldgehalte, insluitende oor hoe Suid-Afrika die vernaamste areas waar hy ’n mededingende voordeel het, kan bemark en bevorder. Ander internasionale sprekers is Felicity Carter, die redakteur van die gesaghebbende Meininger’s Wine Business International wat in Duitsland gebaseer is, en Dr. Robin Back, ’n VSA-gebaseerde akademikus wat navorsing in wyntoerisme doen in sowel Suid-Afrika as die VSA.

Tans verskaf wyntoerisme in Suid-Afrika werk aan 4,5% van die land se arbeidsmag landwyd, en in die Wes-Kaap skep dit 204 000 formele werksgeleenthede. Die Wes-Kaapse Regering se provinsiale strategieplan het dit ten doel gestel om werkskepping in hierdie sektor met 60% te laat groei en sodoende nog 120 000 formele werksgeleenthede te skep teen 2019.

“Met die wynbedryf wat ten nouste saamwerk met die regering, wat die heel eerste Nasionale Wyntoerismestrategie op die konferensie gaan bekend stel, lyk die toekoms blink,” sê Biggs.
MARLISE POTGIETER, AUGUST COLLECTIVE, 072 562 5307 of marlise@augustcollective.co.za