Subscribe by Email

Steeds Malema

Kan die hofbevel wat uit die Malema-haatspraaksaak spruit, doeltreffend afgedwing word? Het die saak nie net olie op Malema se vuur gegooi nie? Is die ANC nie dalk as gevolg daarvan die harnas ingejaag teen Afrikaners nie? Het die saak Suid-Afrika nie net verder gepolariseer nie?

Dít is die vrae wat verskeie bekende Afrikaanse sprekers op 6 Oktober tydens die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se eerste openbare simposium oor die Malema-uitspraak gaan takel.

Volgens Danie Brink, uitvoerende hoof van die FAK, het regter Colin Lamont se geskiedkundige uitspraak op 12 September vanjaar in AfriForum se haatspraaksaak teen Julius Malema, die president van die ANC-jeugliga, groot opspraak gewek en talle nuwe vrae onder Afrikaner-geledere ontketen.

“Lamont het onder meer bevind die omstrede ‘Skiet die Boer’-lied ondermyn menseregte en is skadelik en diskriminerend. Hy het bevind dat daar geen regverdiging is om die lied te sing nie en het beveel dat Malema die regskostes moet betaal,” verduidelik Brink. “Die doel van die simposium is om verskeie van die kwelvrae wat ná die uitspraak ontstaan het, kaalvuis te pak en oor die toekoms te gesels, veral in die lig van die appèlsaak wat nou voorlê.”

Die debat sal ná die simposium op Maroela Media se Dié Groot Debat by www.maroelamedia.co.za voortgesit word. Maroela Media, ʼn inisiatief van Solidariteit, tree as mediavennoot van die geleentheid op.

Sprekers tydens die geleentheid:

Mnr Willie Spies (AfriForum se prokureur)

Adv. Roelof du Plessis (senior advokaat van TLU SA)

Genl. Chris van Zyl (assistent-hoofbestuurder van TLU SA)

Prof. Koos Malan (advokaat vir die Vereniging van Regslui vir Afrikaans)

Die media word uitgenooi om die geleentheid by te woon:

Datum: Donderdag, 6 Oktober 2011

Plek: Manschappensaal, Voortrekkermonument, Eeufeesweg, Pretoria

Tyd: 18:15