Subscribe by Email

Stakers bly vandag tuis

Stakende werkers gaan vandag by die huis bly en nie die strate invaar nie. Die staatsdiensvereniging sê die staking gaan voort, maar dit sal vandag anders wees omdat die werkers gevra is om by die huis te bly. ‘n Woordvoerder, Manie de Clercq, sê massaoptrede is net vir Donderdag beplan.

Verlede week het die staatsdienswerkers se staking veroorsaak dat skole gesluit moes word terwyl strate en ingange na hospitale deur die stakers versper is.  Die minister van openbare werke en administrasie, Richard Baloyi, het ‘n beroep op werkers in noodsaaklike dienste gedoen om terug te keer werk toe. Dit sluit in verpleegpersoneel en amptenare van die departement van binnelandse sake.

Baloyi wou nie kommentaar lewer oor wat met die werkers sal gebeur as hulle aan hou staak nie. Hy het ook stakers gevra om die regte van ander werkers te respekteer.

Intussen het die regering die naweek ‘n interdik gekry wat nooddienswerkers gelas om terug te keer werk toe terwyl die staking nog aan die gang is. Dit is onseker of noodwerkers die interdik gaan teenstaan.