Subscribe by Email

Staatsdiens stakers word met busse aangery vanaf Limpopo

Meer as een miljoen staatsamptenare ontwrig vandag die staatsdiens. Optogte word  in Kaapstad en Pretoria uitgevoer. Alle staatsdepartemente, ondermeer skole, administrasie- en immigrasie-kantore word geraak. Noodsaaklike dienste soos die polisie en hospitale sal met minder personeel oor die weg moet kom.

Cosatu dreig om die staking uit te brei indien die regering nie aan sy eis van ‘n agt-komma-ses persent salarisverhoging voldoen nie. Die vakbond vra ook ‘n duisendrand-behuisingstoelaag. Die regering bied slegs ‘n sewe-persent verhoging en ‘n seshonderd-en-30 rand behuisingstoelaag aan. ‘n Woordvoerder van Cosatu, Patrick Craven, sê die vakbondfederasie is bereid om weer met die staat in gesprek te tree indien ‘n nuwe loonaanbod gemaak word

Vroër het Die Departement van Basiese Onderwys probeer  om ouers te oortuig om by skole uit te help.

Onderrig het by talle skole in Gauteng tot ‘n stilstand gekom. Sover vasgestel kan word is alle skole in Soweto gesluit. Sowat 250-duisend onderwysers wat aan die vakbond, SADOU, behoort, neem deel aan vandag se landswye staatsdienstaking. By sommige skole het kinders nie hul skoolklere aan nie, en maak hulle gereed om binnekort huistoe te gaan as klasse nie gaan begin nie. Bykans geen voormalige model-C skole in voorstede word ontwrig nie. Die Nasionale Vereniging van Skoolbeheerliggame het aangebied om as bemiddelaar op te tree tussen die regering en stakende onderwysers. ‘n Woordvoerder van die vereniging sê dit is noodsaaklik dat ‘n oplossing gevind word omdat baie klastyd reeds weens die Sokkerwêreldbeker verlore gegaan het.

Busse vol betogers word nog na Pretoria aangery om deel te neem aan ‘n reuse staatsdiensoptog na die Uniegebou

n Ruk gelede is werkers by die Charlotte Maxeke hospitaal in Johannesburg opgelaai om by die duisende betogers aan te sluit wat in die Pretoriase middestad saamtrek. Vroeër is stakers met busse vanaf Limpopo aangery. Die betogers wil om eenuur vanmiddag ‘n griefskrif aan die Staatsdiensminister, Richard Baloyi oorhandig. In Kaapstad word ook ‘n betoging gehou en duisende mense sal na verwagting na die parlementsgebou opruk.