Subscribe by Email

Sri Lanka-toer: Het senior spelers werklik geslaag?

Voor die aanbreek van die pas afgelope kriekettoer van die Sri Lankane in Suid-Afrika was kommentators dit basies eens dat die eilandbewoners afgeslag gaan word.

En soms het dit so gelyk. Maar die Sri Lankane het een van die drie toetse oortuigend gewen, en in die laaste twee van die vyf eendagwedstryde die Proteas les gegee in die speel van die eendagspel. Weens die reënonderbreking in Bloemfontein kon die Sri Lankane net sowel daardie wedstryd in die sakkie gesteek het, en sou hulle die reeks verower het.

Na ‘n sukkelbegin het Graeme Smith die lopies begin inryg.

Tog is al die vrae nie besweer nie. As kaptein van die toetsspan meen hy, anders as die meeste kenners, dat Mark Boucher nog in die span hoort. Dit dui daarop dat die ongesonde oorskatting van senior spelers steeds vatplek het.

Vrae is ook gevra of die toetsarena die regte plek is om ‘n speler wat die kluts kwyt is met sy tydsberekening, die visiere reg in te stel. Verdien vormspelers nie eerder die kans nie? Moet spelers wat sukkel nie eers hul vorm in laer vlakke gaan herwin nie – ongeag senioriteit?

In die laaste eendagwedstryd het Smith 125 lopies aangeteken, en sy slagtempo van 87,4 was nie te versmaai nie. AB de Villiers het op nommer 4 kom kolf, en ook 125 lopies aangeteken, maar van net 98 balle af – 45 balle minder as wat Smith gebruik het. Die Proteas se kolftempo was ietwat meer as ‘n lopie per bal, wat te stadig geblyk het te wees. Kolwe moet egter nie met kopskerms vergelyk word nie – maar dit sal die keurders tog loon om betyds te begin oplet wanneer senior spelers hulle die luuksheid van te stadige kolfwerk verooroorloof, en van die junior spelers verwag om hul plaatjies in ‘n dolle lopiejaagtog prys te gee.

Die keurders sit ook effens met die broek af – daar is in die jongste tyd werklik moeite gedoen om vormspelers weer ‘n kans te gee. Tog … dit lyk of die tydsberekening tussen vorm en speelkans met sowat ‘n maand nie gesinchroniseer is nie. Veral jong spelers, lyk dit, word vir die wolwe gegooi wanneer hulle bietjie vorm verloor, en juis dan gekies word. Colin Ingram is blatant oor die hoof gesien, en toe sy goue kolf bietjie dof word, is hy met min of meer katastrofale gevolge gekies.

Albie Morkel het eers weer speelkans gekry nadat Dean Elgar beseer is.

Hoewel Wayne Parnell, nadat hy speelkans begin kry het nie te sleg gevaar het nie, was sy vertonings in die Superreeks voor sy insluiting maar beroerd. Op vorm sou hy nie nou speelkans gekry het nie.

Die wisselvalligheid van die land se voorste spelers in die Superreeks laat boonop die keurders met min beweegruimte. Spelers wissel honderdtalle met nulletjies of baie lae tellings af asof dit die norm is. Min spelers toon die soort bestendigheid wat ‘n plek in die uitsoekspan bykans onafwendbaar maak.

Die mate waarin die Suid-Afrikaners in die reeks krampe gekry het, terwyl die teenstanders minder daardeur gepla is, het ook vraagtekens geplaas. Is die spelers werklik fiks? Is hul voedsel- en voginname wetenskaplik genoeg beplan? Dis geldige vrae as ‘n paar spelers krampe kry en uitgehardloop word.

Vrae kan miskien ook oor die boulafrigting gevra word. Puik boulwerk word deur swak balle, soms ritse swak balle, afgewissel, wat die teenstanders in staat stel om skielik baie lopies aan te teken. Wat verwag die boulafrigter van die spelers?

Herman Toerien