Subscribe by Email

Spuperrugby – Oom Anneries gesels

Jare gelede het die uwe 6de in Sanlam se landswye sportskrywerskompetisie gekom, en word ek gewoonlik nie twee keer genooi om ‘n ietsie met ‘n sportstertjie te skryf nie. Maar die naweek was ons weer by oom Anneries op Ficksburg aan, en…ja, niemand kan die naweek se sportgebeure beter saamvat as hy, en vooruitskouings vir die komende naweek se aksies gee nie.
“Jy weet mos hoe kwaad was ek laas vir die Tsjietahs oor ek so ver ry, net om te sien hoe hulle die bôlle vir die ander span se snellers skop om te gaan drieë druk, of dat die span te vroeg loop verklaar…”
Oom Anneries stuur sy straaltjie pruimtwak sekuur in die emmertjie in. Vroeër het oom Anneries hier op die stoep al pypstokend die sonnetjie gevolg, maar toe hy nog net een halwe long oor het, het die tante ‘n ultimatum gestel. Van toe af pruim die ou, maar toe die tante se plante begin verkleur en afsterf, moes die straaltjies na ‘n emmer toe gemik word.
“Ja oom, ek onthou.”
“Nou kyk ek maar op die kassie…”
“En daar gaan die Laijôns en wen Doer Onder. Lankal geweet daar sit meer in daai span as hul uitslae tot dusver. Die Tsjietahs kan bly wees hulle speel nie weer teen daai Laijôns nie, hoewel ek soos laas nog steeds voel sikke wedstryde sou loshande die beste rugby van die reeks kon oplewer. Maar soos taks is die een span dan nie lus vir speel nie.”
“Maar die Cheetahs het die naweek darem goed gewen, oom.”
“Ja, maar ek hoop nie hulle besluit hulle kan nou maar skop nie, want wat in een of twee wedstryde mee weggekom word, boemerang meestal in ander wedstryde. En ai, dwarsskoppe werk ôk net as jou vleuels nie bottervingers inspan nie.”
“Wat gaan die naweek gebeur, oom?”
“Die belangrikste wedstryd is natuurlik die een tussen die Boelle en die Sjakhse. Omlat die Rêbbels nou nie die beste van teenstand was nie, weet ‘n mens natuurlik nie of die Boelle nou weer uitgevind het waar hul ratte sit nie. Maar die Sjakhse is nou vanjaar ook nie die bestendigste span nie, en dit sal baie afhang van watter span die meeste prima donnas op die veld sit, en wie die luste het om te speel.”
“Maar dit lyk tog of die Stormers vanjaar die Suid-Afrikaanse vlagskipspan is, al het hulle nou skielik wedstryde begin verloor,” waag ek ‘n mening.
“Ja, die Stôhmes gaan klippe kou teen die Blues. Maar as die Stôhmes nie almal kaptein probeer wees nie en die regte spelers so lank as moontlik op die veld bly, kan hulle dit maak. Anders dink ek die Laijôns se kanse om die Highlanders te klop is beter as die Stôhmes se kanse die naweek.”
“Bedoel oom nou met Ricky January?”
“Hy ook, maar daar is ander wat as toeriste saam is op die trippie.”
“En die Cheetahs oom?”
“Nee nefie, daai ene kan ek nie vir jou sê nie. Is die Tsjtahs lus vir speel kom daar ‘n moewiese telling. Maar ek het ‘n spesmaas die Tsjietahs gaan weer lus kry vir rotasiebeleid teen die Rebbels, dit gaan weer mamparraskoppe wees, daar gaan verklaar word … en daai Rebbels het dit in hulle om op ‘n goeie dag vir hulle enige span aapstert te gee.”
En ek weet, dié naweek waag oom Anneries nie om weer vir die wedstryd te ry nie. Asof hy my gedagtes lees, sê hy: “Petrol is te duur.”