Subscribe by Email

Springbokke skud Fidji

Donderdag het ‘n yslike aardbewing van M 7.3 Fidji geskud.

Vandag het die Springbokke die eilandbewoners tot in hul fondamente geskud en in hul wêreldbekerwedstryd met 49 – 3 koning gekraai.

Belangrik, die Bokke het ‘n bonuspunt met hul ses drieë verdien, na hulle danksy skeel lynregters naelskraap teen Wallis deurgeskuur het.

Die Fidjiane was die eerste twintig minute van die wedstryd deeglik in die prentjie, met gereelde strooptogte deur die Bokke se verdediging. Die Bokke het in daardie stadium gelyk gebreek danksy ‘n yslike strafskop van Frans Steyn wat die dal van diep in sy eie halfgebied deur die pale gesool het.

Hierna het die manne van Fidji egter die prys begin betaal vir halfhartige verdediging, en as met mening verdedig is, was dit dikwels hoogvatte.

En as die Bokke se afrigter die – soos ‘n Engelstalige koerant dit week gestel het – berugte “k”-woord inspan – vir “kick”, dan kies ‘n mens ‘n speler agter wat kan veldwerk doen.

Die Bokke daarenteen, het die Fidjiane minder beweegruimte gegee, en nog minder afrondkanse. Die Fidjiane se aanvallers het dikwels lang ente veld gewen deur met swenke en selfs ‘n aftrap of twee die Bokke se verdediging oorhoops te hê, maar spoed en afronding is ook nodig – en dit het die eilandmanne tuis vergeet.

Al het die Bokke die telbord na rustyd aan die rol gehou, was die eerste helfte na lemoentyd ook veel meer gelykop as wat die telling aandui.

Uiteindelik het Fidji die Springbokke min gunste bewys, en is daar ‘n hele paar vrae wat nog beantwoord moet word: Het Pierre Spies sy voete begin vind, of het Fidji hom meer op stryk laat lyk as wat hy is?

Het Lambie die toets op heelagter geslaag?

En is daar iets te lese daarin as die beste taktiese skop van die wedstryd van die flank, Heinrich Brüssouw af gekom het?

Gaan die Bokke elke keer met die skoptaktiek wegkom? Heel waarskynlik lê ‘n paar spanne se agterste driehoek reeds wakker om te dagdroom oor die strooptogte wat hulle met dié pasella-besit teen die Bokke kan aanvang.

En die groot vraag: Kan die Bokke waag om in die uitklopfases met John Smit in die beginspan te speel? Bismarck du Plessis – die dimensie wat hy na die spel bring – sal immers nie noodwendig teen sterker teenstand die bordjies in ‘n paar minute speeltyd kan verhang nie. Was hy in die beginspan, is dit te betwyfel of Fidji hierdie eenman-aardbewing 20 minute lank gestuit sou kon hou.

Herman Toerien