Subscribe by Email

Springbokke: Moet keurders teruggebring word?

Die vraag sal stellig weer gevra word na Heyneke Meyer, nuwe Bokbreier, sy span van dertig spelers aangekondig het, en die groep 13 Bulle en drie Stormers ingesluit het, na die Stormers die Bulle op Loftus getroef het.

Die Haaie, wat teen Suid-Afrika se houtlepelspan, die Leeus, streepsuiker gekry het kan nie te veel kla oor afskepery nie, terwyl die Leeus self bietjie saambrul, en die Cheetahs ook twee spelers opgelewer het.

Soos nuwe Springbokbreiers aangestel is, was dit ‘n gereelde verskynsel dat hul eerste Bokspan eintlik na ‘n uitnodigingspan van hul eie bonde lyk – in elk geval veral van die keurders in die slag gebly het. Dit het miskien die voordeel van ‘n afrigter wat die spelers goed ken, en ‘n mate van samespel wat vasgelê word.

Vanuit die oogpunt van nasionale trots is dit min of meer rampspoedig.

In die debat oor keurders of nie, sal die vraag ook wel gevra kan word of keurders in die verlede sodanig nasionale spanne tot gevolg gehad het. Die gevaar is dan altyd daar dat die keurders wel die beste speler in ‘n posisie kan kies, maar nie een wat by die beoogde spelpatroon inpas nie.

Sou keurders heringestel word, sal die afrigtingspan die geleentheid moet kry om hul wedstrydplan en gedagtes oor spelers met die keurders te deel. Maar hoe word die beste keurders in elk geval gekies?

Selfs ‘n stelsel waar die afrigtingspan ‘n span kies, maar dit eers vir goedkeuring aan ‘n paneel voorgelê word om bevooroordeeldheid te probeer uitskakel, kan slegte gevolge hê. In krieket sal die geval van Jacques Rudolf se destydse weglating as skandaal nie maklik uit die weg geruim word nie. Dit kan ‘n speler breek.

Of die ideaal haalbaar, en veral bekostigbaar is, is ‘n ope vraag. Dit sou byvoorbeeld behels dat daar ‘n beoordelingspaneel per posisie moet wees. In elk van die Suid-Afrikaanse Super-bonde word twee kenners vir elke posisie aangewys (dus tien in totaal), wat dan in elke wedstryd waarby ‘n Suid-Afrikaanse span deelneem, die betrokke spelers, bv die hakers, beoordeel.

Elkeen gee dan vir die haker(s) ‘n punt uit tien. Wanneer een of meer van die kenners deurlopend of gereeld ‘n heel ander punt as die meerderheid toeken, word sy geskiktheid vir die paneel heroorweeg.

Wanneer die Bokspan aangewys word, is die haker wat die hoogste totaal het die man, tensy die afrigter ‘n goeie motivering kan verskaf oor hoekom hy nié die mees geskikte speler vir die posisie is nie. ‘n Argument dat die vierde beste haker in moet wees omdat hy die kaptein moet wees, moet net geen punte tel nie.

Faktore wat gemeet kan word, is bestendigheid, hoe die speler vaar as die res van sy span ‘n “afdag” beleef, en hoe die speler teen swakker en teen sterker spanne vaar. In sommige posisies is dit “maklik” om teen swak spanne uit te blink, maar dieselfde speler kan teen sterker spanne “verdwyn.”

Ander soorte statistiek, soos duikslae, balle gesteel, ens word deesdae goed deur onafhanklike instansies bygehou, en kan ook goed gebruik word.

Die stelsel leen dus iets uit gimnastiek en ander sportsoorte waar deelnemers op hierdie manier beoordeel word om hul plasing te bepaal.

Die stelsel het egter ook nadele.

Bedryfsregte se afrigters kies nie noodwendig die beste spelers in posisie in hul bonde nie. Daar kan dus steeds spelers deur die krakies val. Om dieselfde spelerbeoordelingstelsel na die bedryfsregte uit te brei, gaan geheel onprakties wees omdat bykans geen klubrugby op TV vertoon word nie, en beoordeling dus duur gaan wees. Die beoordelaars gaan ook aan ander mense blootgestel wees wat hulle kan beïnvloed.

‘n Tweede nadeel is dat ‘n speler in ‘n span wat swak vaar, dikwels soveel ekstra moet doen om die oog te midde van ‘n oormag te vang. En die geskiedenis leer ook dat spelers wat dit regkry, dikwels in elk geval nie in hoër geselskap die mas opkom nie. Saag Jonker het vir SWD, wat gewoonlik groot slae gekry het, uitgeblink, en sy vermoëns sou hy op hoër vlak kans gehad het is grootliks onbeproef. Maar ‘n man soos Kakie Goosen het wel proewe toe gegaan (‘n debatspunt op sy eie) en glo “verdwyn.”

Maar hoeveel spelers is daar op die platteland wat nie kans kry nie – ‘n relevante vraag teen die agtergrond van die ideale van rugby-ontwikkeling.

Griekwas is ‘n goeie voorbeeld van ‘n span wat wel plaaslike talent onttrek, maar dit kan ook vir logistieke redes nie te ver van Kimberley af wees nie. Die afskaffing van plattelandse bonde soos die Oos-Vrystaat en Noordoos-Kaap, Noordwes-Kaap het noodwendig rugby-ontwikkeling skade laat ly.

Terwyl sokker in Suid-Afrika in die rigting van desentralisasie werk, en PSL-spanne in plekke soos Qwaqwa, Rustenburg, Pietermaritzburg en ander kleiner plekke gesetel is, werk Suid-Afrikaanse rugby in die rigting van sentralisering.

Australië neem IRB-rugby nou na gebiede wat tradisioneel League en Australian Rules-gebiede is, en hoewel dié proses langsaam is, het beide die Force en die Rebels al groot spanne gerol, en nog meer hard laat werk om die knoop deur te haak.

Die Britse Leeus moet minstens twee spelers uit elk van die deelnemende lande, Ierland, Engeland, Wallis en Skotland kies om verteenwoordigendheid te verseker.

Meer as net die keurstelsel is nodig om te verseker dat die beste span vir die land en vir die spel op die veld draf.

Herman Toerien

One Response to Springbokke: Moet keurders teruggebring word?

  1. Rassie Erasmus

    Junie 15, 2013 at 7:42 am

    Ja beslis bring die keurders terug, so gou as moontlik. Elke provinsie moet verteenwwordig wees deur sy afrigter. Dan word die top spelers na die springbok proewe geneem, wat oor ten minste `n week moet strek,om die absolute beste kombinasies te verkry. So sal die beste span gekies word. Jy kan ook nie die selfde wedstrydplan vir alle wedstryde he nie. Elke wedstryd MOET DIE WEEK VOOR DIE WEDSTRYD BEPLAN WORD HOE OM DIE OPPONENTE DIE BESTE TE UITOORLE. VERGEET ASB OOK DIE STAMPKAR IDEE VAN HEINEKE. HARDLOOP VIR `n SLAG OM DIE OPPONENT. DIT WORD DIE GAPING GENOEM.