Subscribe by Email

Springbokke” Loeks êt de skôrbord

In die anale van wêreldbekerrugby sal aangeteken staan: die Springbokke het hul openingswedstryd van die 2011-wêreldbekertoenooi teen Wallis gewen.

Wallis het opgedaag, en was dit nie vir ‘n windskewe strafskop, en nog een wat op TV gelyk het of dit oor was maar as mis beoordeel is nie, was die Rooi Drake aan die wenkant. Wat belangrik is: Loeks êt de skôrbord. En amper verloor is beter as amper wen, en die Bokke het gewen.

En verdienstelik so.

Dit beteken egter nie die Bokke het nie ook vinger getrek nie. Die bleekbene se dryfpogings is meestal onder ‘n kombers toegemaak, terwyl die Bokke by tye self meedoënloos van die inbind-situasies af aangeval het. Uiteindelik het dit ook die wendrie opgelewer toe plaasvervanger Francois Hougaard onder die pale oor die doellyn gevlieg het.

Die doeltreffendheid waarmee die Bokke die Drake se dryfpogings in die kiem gesmoor het, het voorkom dat te veel voorspelers ingesuig word, en kon die verdedeiging en kruisverdediging maklik bykom om deukomkans te smoor. Bygesê, die Bokke se taak is vergemaklik deurdat die Drake te veel kere kop omlaag ingestorm en dadelik afgegaan het om die bal te plaas. Wanneer ‘n aanvaller regtig probeer deurkom het, het hulle die Bokke se verdediging soms ver laat omdraai.

Daar kan egter nie doekies omgedraai word nie – die Bokke het eers begin sake voorlangs oorheers na Bismarck du Plessis ‘n ent in die tweede helfte ingekom het, en die spel na die Walliesers geneem het. John Smit is doodeenvoudig nie ‘n skaduwee van Du Plessis nie, en het boonop ‘n liederlike blaps met ‘n skewe ingooi in ‘n kritieke lynstaan gemaak.

Indien Victor Matfield se besering egter meer as net ‘n haastige skeet is, sal Peter de Villiers nie sommer omgeloop word om Smit te pos nie, wat die Bokke teen sterker teenstand peperduur te staan gaan kom.

Intussen: Geluk aan die Bokke.

Terloops. Was Pierre Spies ooit op die veld?

As Spies nie die een of ander tyd gaan opdaag nie, kan De Villiers se besluit om die Blikoor-bossiekop, Ashley Johnson tuis te laat ‘n nog groter kopsorg word. Boonop het De Villiers, ter wille van John Smit se insluiting, drie hakers na die land van die Silwer Varing saamgeneem, wat dit nog moeiliker gaan maak om Johnson in ‘n geval van ‘n besering te ontbied – tensy een van die hakers seerkry en teruggestuur word.

Herman Toerien