Subscribe by Email

Spekulante in edelmetale kon groot slae slaan

Met die prys van goud en platinum, om silwer ook nie heeltemal weg te gooi nie, wat opwaarts beur te midde van skielike skerp dalings, is ‘n reuse debat aan die ontwikkel of goud nog ‘n tipiese belegging is.

Tradisioneel het goud as beleggingsverskansing gedien as ander beleggingsopsies te volatiel geword het, of volgens alle aanduidings sou tuimel.

Vanoggend vroeg was die goud- en platinumpryse bo die $ 1 900 per fyn ons. Hoewel platinum meestal ‘n kort kop voorbly, steek die goudprys periodiek die platinumprys verby. En dan daal die spulletjie skerp.

Dit is duidelik dat ‘n belegger wat sy sout werd is, nou ‘n fortuin kon maak.

Hou die wêreldekonomie, ekonomiese indikatore en die politici se reaksie dop, en ‘n mens kan redelikerwys aflei wanneer beleggers gaan kleinkoppie trek en in goud gaan verskans. Die vraag jaag die prys op.

Dan tree die groep in oor wie se koppe die storm nou woed – die spekulant-beleggers. Wanneer die goud- of platinumprys ‘n stewige nuwe hoogte behaal het, word goud weer flink verkoop. Meer ernstige beleggers sien die uittog, besef die prys gaan val, en volg, en die prys daal. Dit daal tot die beleggers besef hulle gaan te veel verloor deur te verkoop om verliese te beperk.

Dan tree die spekulante weer in, en koop weer goud teen die laer prys op. En die prys styg weer, want die wêreldekonomie is nie lekker gesond nie, en goud het die tradisie van beleggingsverskansing.

En die proses herhaal hom – tot verskeie kere per dag.

Intussen probeer gerekende ekonome te midde van die lastige spekulasie-invloed kop of stert uitmaak. Boonop, as iemand met spekulasie wen, is dit omdat ‘n ander daarmee sy vingers verbrand.

Die geheim is natuurlik om te weet wanneer om wat te doen. En om die senuwees te hê daarvoor. Die winste kan nog verder vergroot word deur die valutamarkte in die oog te hou.

Die belegger wat goud gekoop het en bereid is om dit doodgewoon te behou te midde van die invloed wat op die kort termyn daarop inspeel, kan ook nie kla nie. ‘n Maand gelede was die goudprys net bo die $1 600 per fyn ons, twee maande gelede net bo die $1 500, 6 maande gelede $1400 per fyn ons, ‘n jaar gelede net bo die $1 200 en 5 jaar gelede $600 per fyn ons. Tien jaar gelede was die prys net bo die 10 jaar net bo die $200 per fyn ons.

‘n Goudkenner het voorspel dat goud binnekort $2 400 per fyn ons kan haal, maar waarsku terselfdertyd dat kort termyn slagtings kan voorkom.

En dis daardie onewe pad boontoe wat die spekulant se brood en botter is – of liefs, goud en platinum.

Herman Toerien