Subscribe by Email

Spanning in Curriebekernaweek

‘n Skepdoel was uiteindelik die punteverskil tussen die Leeus en die Blou Bulle, maar daardie drie punte het die Bulle by die Griekwas op die punteleer laat verbyskuif.

Maar, soos ‘n Bulle-ondersteuners na die tyd opgemerk het, die Blou Bulle het die Leeus met dertien spelers geklop, terwyl die Leeus al 15 spelers plus die skeidsregter en die TV-skeidsregter op die veld gehad het.

Dié kommentaar is waarskynlik nie geregverdig nie, maar dis jammer dat skeidsregters en hul assistente nou soveel in die spervuur kom, terwyl dit meer as net af en toe geregverdigde kritiek is.

Griekwas het vroeër die naweek die Haaie laat klippe kou, maar kon nie verhinder dat die Durbaniete sukkel-sukkel volpunte inoes nie, terwyl die Griekwas droëbek huis toe is.

Die wedstryd op Nuweland het alles gehad om die wedstryd van die naweek te wees, maar na ‘n belowende eerste helfte waar die Cheetahs op al hul silinders gevuur het, het die tweede helfte as skouspel gevou. Die bietjie sprankel het byna uitsluitlik van die WP gekom, wat in ‘n stadium die Cheetahs laat lyk het na die span wat al so dikwels ‘n neerlaag uit die kake van ‘n oorwinning geruk het.

In die eerste helfte het die Cheetahs by tye die bal in blitsige vingerpuntbewegings van voor- en agterspelers gedra soos die Wit Tornado van ouds toe die span sy reputasie as die beste hardloopspan in die land verwerf het.

Die gevaartekens was egter al in die eerste helfte duidelik teenwoordig toe die Blikore besit begin wegskop het, selfs na die WP – soos soveel kere in die verlede – gewys het dat hulle dié pasellabesit as aanvalsgeleenthede beskou.

Weer eens het dit gelyk of daar ‘n benaderingsgaping tussen die hoofafrigter, Naka Drotske en sy agterlynafrigter, Hawies Fourie is, en dié saak sal gou reggestel moet word om te keer dat die Cheetahs se jong losskakels, briljant soos hulle is, nie verwar word en kop verloor nie. ‘n Benadering van besit beskerm, en om ‘n mengsel van besit en skoppe te gebruik, is duidelik nie dieselfde ding nie. Skopwerk is slegs doeltreffend as die hele span daarby ingebind word en dienooreenkomstig afgerig word.

Bygevoeg, die stringe strafskoppe wat die skeidsregter na rustyd teen die Cheetahs uitgedeel het, sou ‘n mindere span die wit vlag laat hys het. Die Cheetahs het laat in die wedstryd egter sterk teruggekom, en uiteindelik met ‘n bonuspuntdrie, saam Sias Ebersohn se skepskop, gewys dat die span nie rustyd verklaar het nie.

Dié wedstryd het ook nie net verseker dat die Cheetahs met die WP plekke op die punteleer geruil het nie, die Cheetahs is nou net twee punte agter die Haaie in die tweede plek. Die Bulle is skielik net vier punte agter die WP om die vierde plek.

Herman Toerien