Subscribe by Email

Sonskynskrywer PH Nortjé sterf

Lus vir net ‘n bietjie ontspan na ‘n dag van die gewone bedrukkende dinge?

Geen probleem nie. Gaan haal net een van PH Nortjé se bundels sketsverhale uit die boekrak, sit agteroor, en verhuis na ‘n wêreld so eie aan die Afrikaner waar die son byna altyd skyn. Ontspan in ‘n wêreld van humor, maar waar humor nooit vervlak nie.

Maar nou is sy pen finaal stil na hy op 91-jarige ouderdom in ‘n aftree-oord in die Strand oorlede is.

PH Nortjé sal veral as humorskrywer onthou word, maar sy oeuvre is baie, baie wyer. Die rou aardsheid van sy grootwordwêreld in die Baviaanskloof waar hy op 20 Oktober 1920 in sy ouers se hoofslaapkamer gebore is, tot jeugverhale, tot die sonskynboeke oor sy geliefde Wellington, wat om sy gesin, sy bure en oupa Grootbul van Bonnievale geweef is.

Aan die sonkant, Nuut onder die son, Operasie sonskyn en ander leesavonture, en Op die sonpad tel onder die bekende boeke wat PH Nortjé ‘n bekende naam onder Afrikaanse lesers gemaak het.

Na Nortjé self opgehou het om te skryf, is sy werk nog in verskillende bundels uitgegee, onder meer Op ‘n hoë noot, Die lekkerste stories van PH Nortjé, en Wellington se suiker, wat deur Danie Botha saamgestel is.

Onder sy bekendste werke tel Die Groen Ghoen, Matewis se mense gaan boer, Bly of Gly, en Pennie se vuur.

Nortjé het homself nie as skrywer nie, maar as storieverteller, beskou. Skryf was volgens sy seun, Charl, harde werk, en hy het onder groot aanmoediging van sy vrou Mikie en bure sy hand aan die pen geslaan.

Hy word deur sy hoofkarakters, sy seuns Charl, Francois en Pierre-Henry en agt kleinkinders oorleef.

Skets: Springbokboeke

Herman Toerien