Subscribe by Email

Sonkrag word goedkoper

In 1967 het dit $80 gekos om ‘n Watt elektrisiteit uit sonselle op te wek, maar nou kos dit 90 Amerikaanse sent om dieselfde krag so op te wek. En dit kan nog laer.

Die laer koste is hoofsaaklik deur die massaproduksie van sonpanele deur China moontlik gemaak, en verlede jaar was sonkragpanele vir die grootste aandeel in nuwe energie wat in Europa opgewek is, verantwoordelik. Byna die helfte van die nuwe opwekkingsvermoë in Europa is verlede jaar aan sonkrag toegeskryf (21642 Megawatt), terwyl gas vir 9 718 MW en windkrag vir 9616 MW verantwoordelik was.

Die grootste nadeel van wind- en sonenergie is dat dit nie deurlopend volgehou kan word nie.

Sonkrag word deeglik in Europa bespreek, en ambisies ken geen perke nie. “Nederland kan in Europa groot zonland worden” lui een opskrif, terwyl ‘n ander lui: “Serwië wil grootste sonpark ter wêreld bou.” Dié sonplaas sal na verwagting 1 Gigawatt oplewer, of te wel 400 000 keer soveel as 12 panele wat op die dak van ‘n gemiddelde Europese huis aangebring kan word. Dit sal na raming ‘n oppervlak van 2 by 3 kilometer beslaan, wat in Serwië, wat baie onvrugbare berghellings het, nie vrugbare landbougrond verlore sal laat gaan nie.

Vergelykenderwys is die hidro-elektiese kragsentrale by die Gariepdam in staat in 360 Megawatt elektrisiteit op te wek – as die dam vol genoeg is om die verlangde druk te verskaf.

Foto: EPA, Sonkragpanele in Hesse, Duitsland

Hoofbron: Vincent Dekker, Trouw se blog, Vincent wil zon

Herman Toerien