Subscribe by Email

Solidariteit se aksieplan teen misdaad in Suid-Afrika

Flip Buys, Solidariteit

Solidariteit, by monde van Mnr. Flip Buys, die Uitvoerende hoof van Solidariteit en Voorsitter, AfriForum het ’n aksie plan opgestel om te help met die onaanvaarbare misdaadsituasie in Suid-Afrika. Hier volg hulle aksieplan, soos uiteengesit op die webwerf van Solidariteit.

Aksieplan:

1. Ons sien die Minister van Polisie Woensdag, waartydens ons die huidige polarisasie en spanning wil bespreek, om te verhoed dat dit oorkook. Ons wil ʼn voorstel vir ʼn gemeenskapsveiligheidsprogram met hom bespreek, asook probleme wat ons met die implementering van die Polisie se misdaadplan ervaar. Verder wil ons praat oor die grondvlak moratorium op reserviste, en ons kommer oor die veiligheid van die Wêreldbeker Sokkertoernooi.

2. Ons oorweeg om ʼn Artikel 77 aansoek by Nedlac te bring, met ʼn aansoek om beskerming vir werknemers wat wil deelneem aan ʼn landswye dag van protes oor misdaad, waartydens ons by ʼn spesiale misdaadberaad ʼn veiligheidsplan wil opstel.

3. Ons gaan ook ondersoek doen na vorme van wettige burgerlike aktivisme om beswaar te maak teen die wetteloosheid in die land. Hierdie aktivisme kan maniere insluit om met die owerheid te beding vir beter veiligheid vir ons belasting geld.

4. Ons gaan volgende week die Gelykheidshof nader vir ‘n voorkeur verhoordatum vir die haatspraaksaak wat ons teen mnr. Malema en die ANC gemaak het.

5. Verder gaan ons die VN se Genocide Watch kontak, en vra dat Suid-Afrika voorkomend dopgehou word na aanleiding van die moord en wetteloosheid in die land, en om te verhoed dat die huidige geweld en misdaad eskaleer.

6. Ons gaan ʼn vergadering met die ANC aanvra om te praat oor hulle ondersteuning van haatspraak teen ons, en hulle verklaring van ons as ʼn “vyand van die rewolusie”, wat na ons mening ʼn klimaat van rassepolarisasie verder bevorder.

7. AfriForum Jeug gaan op 16 Junie 2010 ʼn nasionale jeugberaad oor haatspraak en geweld teen jongmense hou, en ook maniere bespreek om wedersydse respek en erkenning te bevorder.

8. Laastens gaan ons ʼn senior regsmenings inwin om te bepaal of mnr. Malema se uitsprake in Zimbabwe op minagting van die hof neerkom.

One Response to Solidariteit se aksieplan teen misdaad in Suid-Afrika

  1. Helgard Terblanche

    April 13, 2010 at 6:00 pm

    Stop misdaad. Die land se wetsgehoorsame burgers is moeg daarvoor.