Subscribe by Email

Só het hobbit glo gelyk

‘n Australiese forensiese navorser het ‘n model gemaak van hoe die geheimsinnige “hobbit” van die eiland Flores eens gelyk het. Die “hobbit” wek baie belangstelling deurdat hulle in die mitologie van Flores en ander eilande, selfs Sumatra, verweef is. Bewerings dat dié kort mensies wat glo nie kon praat nie betreklik onlangs nog gesien is en onder meer van die oeste steel, dra daartoe by dat sommige mense glo daar kan selfs vandag nog van hulle in die bosse skuilhou.

Oorblyfsels van die skedel en skelet van die Homo florersiensis is in 2003 op die Indonesiese eiland, Flores ontdek. Die skelet was van ‘n persoon van net meer as ‘n meter lank was, en het sowat 18 000 jaar gelede geleef. Sedertdien is die oorblyfsels van nege “hobbits” gevind, waaronder ‘n volledige skedel.

Die gefossileerde skedels dui daarop dat hulle tussen 38 000 en 18 000 jaar gelde geleef het, hoewel argeologiese ondersoeke daarop dui dat hulle eers 12 000 jaar gelede verdwyn het. Dit beteken hulle moes duisende jare lank naas moderne mense bestaan het, hoewel argeologiese bewyse hiervoor nie gevind kan word nie.

Hul breine was kleiner as dié van die sjimpansee.

Dr. Susan Hayes van die Universiteit van Wollongong het nou dieselfde tegniek ingespan om ‘n gesigsrekonstruksie van die “hobbit” te maak as wat sy voorheen gebruik het om misdade mee te help oplos.

Kenners is verras oor hoe modern die “hobbit” lyk omdat die beendere vergelyk met meer primitiewe vorme wat tussen twee en drie miljoen jaar gelede geleef het.

Na die ontdekking van die gebeentes, was daar meningsverskille oor of dit oor ‘n ander spesie van die mens handel, of ‘n moderne mens wat weens siekte anders gevorm was. Na die rekonstruksie aanvaar die meeste geleerdes egter dat die “hobbit” uniek is, en nie ‘n siekte-misvormde mens was nie.

Die presiese verwantskap met die moderne mens moet nog bepaal word.

 

 

Herman Toerien