Subscribe by Email

Smeltende ys en aardbewings

Nog ‘n frisserige aardbewing by Antarktika betreklik kort na ‘n uiters seldsame aardbewing op die yskontinent self, laat opnuut vrae oor die moontlikheid dat die smeltende poolkappe tot aardbewings kan lei.

In Mei het wetenskaplikes gemeld dat reusagtige ysblokke wat by Groenland losbreek, sulke hewige skokgolwe veroorsaak dat dit tot 3 op die Richterskaal registreer.

Die jongste aardbewing by Antarktika was dié keer betreklik naby aan ‘n beboude gebied, naamlik 118 km van die Amerikaanse wetenskaplike basis McMurdo op die Rosseiland in die Rosssee. Hierdie skudding het 5.1 op die Momentmagnitudeskaal geregistreer. Dit is die eerste aardbewing in meer as tien jaar in dié omgewing. Dit is nogtans naby ‘n fout geleë wat van die Antarktiese skiereiland af langs die landkantste oewer van die Rossee, en dan aan die westekant terug na die see loop.

Dié aardbewing volg net twee maande na ‘n skudding van M5.6 op die kontinent self, net aan die oorkant van die “bek” van die Rosssee. Daardie aardbewing was self uiters seldsaam omdat aardbewings op die kontinent self baie skaars was. Dit was nie naby ‘n bestaande basis nie.

Heelwat aardbewings kom van die punt van die Antarktiese skiereiland wat onder die see met ‘n boog tot by die Andes in Suid-Amerika loop voor. Hulle hou met die “gewone” kontinentale drywing verband.

Die jongste aardbewing is aan dieselfde kant van die Rosssee as die Baleinse eilande waar daar op 25 Maart 1998 ‘n kragtige aardbewing van M8.1 plaasgevind het. Japannese navorsers het bevind dat dié groot skudding na die wegsmelt, en dus ligter druk op, en ontspanning in die aardkors toegeskryf kan word.

Volgens prof. Bill McGuire van die Londense Universiteitskolege, kan die wegsmelt van ys bokant aardkorsfoute tot aardbewings lei. Kenenrs is dit egter eens dat die algemene wegsmelt van ys en die gevolglike ligter druk op kontinente en meer druk op die oseaanvloer nie tot aardbewings soos dié grote van Japan kan lei nie. Die druk in die aardkorsfoute is oneindig hoër.

Navorsing dui wel daarop dat daar moontlik ‘n klein toename in vulkaniese aktiwiteite kan wees weens die stygende seevlak.

Herman Toerien