Subscribe by Email

Slag vir Bulls én Bokke

J.J. Harmse

PRETORIA

Bakkies Botha se loopbaan is wéér in die gedrang.

Die Bulls- en Springbokslot se skorsing van vier weke wat hom gister opgelê is omdat hy ‘‘op gevaarlike wyse en sonder om met sy arms te bind” in ’n losskrum in die wedstryd teen die Stormers ingegaan het, plaas nie net ’n demper op die Bulls se halfeindstryd en moontlike eindstryd in die Super14-reeks nie, maar ook op die Springbokke se eerste twee toetse vanjaar teen Wallis in Cardiff en Frankryk in Kaapstad.

Botha sal al dié wedstryde misloop nadat hy skaars drie weke gelede teen die Lions in sy eerste wedstryd van die seisoen gespeel het.

Hy het voor dit van ’n enkel-operasie herstel.

Die straf laat val weer die kollig op Botha se manier van speel en die vraag of hy doelbewus deur uitwysingsbeamptes en regsmense geteiken word.

Die nuutste skorsing is met ongeloof in rugbykringe aangehoor en sy Bulls-spanmaats was gister merkbaar geskok toe hulle die nuus gehoor het.

Die uitwysingsbeampte, Freek Burger, is seker reg bewys deur die straf wat deur Sanzar se Peter Ingwersen aan Botha opgelê is, maar die speler sal sekerlik voel daar is ’n veldtog teen hom uit daardie geledere.

Botha is verlede seisoen ook in die Super14 uitgewys, eers in ’n wedstryd teen die Waratahs in Sydney, wat hom ’n drie weke lange skorsing op die lyf laat loop het.

Hy is later in dieselfde kompetisie weer teen die Sharks uitgewys, maar vrygespreek.

Sy uitwysing en twee weke lange skorsing in die toetsreeks teen die Britse en Ierse Leeus daarna het die Springbokspan woedend gehad en hulle het in protes met wit bande om die mou teen die Britse toerspan gespeel.

Die Bulls-kaptein, Victor Matfield, het gister by Orlando-stadion gesê hy voel jammer vir sy spanmaat.

“Ek dink hy bly dalk in die moeilikheid omdat hy daardie losskrums so hard skoonmaak. Ander spelers het dalk dieselfde tegniek en as ek dieselfde sou doen, sou dit nie dieselfde effek hê nie.

“Maar Bakkies tref dit so hard dat ouens dit beslis voel. Dit is juis wat hom so waardevol maak, want daardie fisieke vermoëns in ’n sterkpunt vir enige span.”

Matfield meen egter dat Botha se laat terugkeer tot die span in vanjaar se Super14-veldtog dié keer die impak van sy afwesigheid sal versag.

“Kyk, hy is ’n wêreldklas-speler en enigiemand wil hom daar hê, maar gelukkig vir ons het Danie Rossouw en Flip van der Merwe in sy afwesigheid uitstekende rugby gespeel en ’n goeie momentum daar opgebou. Ons is dus gelukkig dat daar twee spelers met hulle gehalte is wat sy plek kan volstaan.”

Botha is reeds Maandag verhoor en daar is gehoop dat die ekstra tyd vir beraadslaging deur Ingwersen ’n ligte vonnis van ’n week of wat sou beteken, veral omdat Gio Aplon, wat deur Botha getref is, ná behandeling verder gespeel het.

Berig: Beeld

One Response to Slag vir Bulls én Bokke

  1. Gerhard Ebersöhn

    Mei 21, 2010 at 5:38 am

    Dis eenvoudig afguns en geld – die ‘regters’ speel GELD en wil nie die Bulle laat wen nie. Hulle is so stjoepit hulle dink ons is te stjoepit om dit te sien. GELD en korrupstheid REGEER SUID-AFRIKA! SIES!