Subscribe by Email

Skool erken nie menseregte nie

Constance Mcmillen

Saamgestel deur Jody Nel

’n Amerikaanse matriekmeisie wend haar tot die howe nadat ’n versoek aan haar skool om toegelaat te word om haar vriendin na haar matriekafskeid te neem, van die hand gewys en die geleentheid gekanselleer is.

Constance McMillen (18) van die Itawamba-landbouskool in Fulton, Mississippi, het die skool ook gevra of sy ’n aandpak na die geleentheid mag dra, maar dié versoek is ook geweier, berig CNN.

CBS News berig die skool het verlede Woensdag aangekondig dat die matriekafskeid afgestel is.

“Al wat ek wou hê, was om my matriekafskeid te geniet,” het McMillen in ’n verklaring gesê. “My skool sal eerder al die leerlinge straf as om almal regverdig te behandel.”

Die American Civil Liberties Union (ACLU) eis dat die skool sy besluit terugtrek.

Mnr. Daryl Presgraves, woordvoerder vir GLSEN, ’n opvoedingsnetwerk vir gay-, lesbiër- én heteroseksuele leerlinge, het aan CBS News gesê die skool se beleid benadeel gay studente.

Volgens CNN het die ACLU en McMillen ’n klag aanhangig gemaak omdat hulle meen amptenare van die skool het McMillen se reg op vryheid van uitdrukking geskend.