Subscribe by Email

Skole word geweldadig ontwrig, leerders in paniek, op vooraand van besluit oor onderwys-staking

Ouers het in verskeie dele van Gauteng en KZN na hul kinders se skole gehaas om hulle kinders op te tel, weens intimidasie en geweld wat by sommige skole uitgebreek het toe SADOU lede toegesak het op skole, kinders en onderwysers rondgepluk het en skole gedwing het om te sluit. In KZN is skole soos Kingsway Hoërskool, Amanzimtoti Primêre skool, Glenwood Hoërskool en Durban Girls Hoërskool almal gister ontwrig deur die geweldadige optredes van SADOU lede. Daar is ook in sommige gevalle skade aangerig by skole soos die Hoërskool Vereeniging, die General Smuts High School, Riverside High, Selborne Primary en die Laerskool Handhawer. Tientalle leerlinge en onderwysers van hierdie skole is uit vrees vir hul veiligheid vroeër huis toe.

‘n Besluit oor ‘n moontlike onderwysstaking sal vandag eers geneem word. Elf onderwysvakbonde wat aan die Onafhanklike Arbeidskoukus behoort, sal betrek word. Die voorsitter van die Koukus, Chris Klopper, sê onderhandelinge vir ‘n verhoging in salaris en behuisingtoelaag gaan steeds voort. Hy sê al 460-duisend lede word geraadpleeg. Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie of die SAOU is een van die vakbonde wat betrokke is. In ‘n stemming per teksboodskap wat sedert verlede week gehou is, is vroeë aanduidings dat die leierskap finaal oor ‘n staking sal moet besluit.

Dan gaan lede wat by die metaalwerkersvakbond, NUMSA geaffilieer is, ook na verwagting vandag die strate invaar om hulle eis vir ‘n 15 persent salarisverhoging af te dwing. Die vakbond sal vanoggend na General Motors SA in Port Elizabeth en Toyota op Isipingo in KwaZulu-Natal opruk terwyl nog ‘n optog vir môre in Pretoria beplan word. Die nasionale loonstaking in die motorvervaardigingsbedryf gaan intussen vir ‘n vyfde dag voort. NUMSA en die werkgewersorganisasie, AMEO sal weer vandag in Pretoria vergader vir verdere samesprekings.