Subscribe by Email

Skokkende verkragtingstatistiek: CDP vra morele herlewing

“Skokkend maar skokkend nie verrassend nie,” sê ds. Theunis Botha, leier van die Christen-Demokratiese Party (CDP) in reaksie op die Mediese Navorsingsraad se navorsing oor verkragtingsyfers. (Koerantberig hieronder).
“Die nuus volg kort op die hakke van die nuus oor verskeie reeksverkragters en moordenaars wat aangekeer is, wat ook die vraag laat ontstaan hoeveel ander is daar nog waaroor ons nog nie ingelig is nie.
“Ons wys lank reeds daarop dat regeringsbeleid die morele verval stimuleer, en voel hierdie statistiek is bloot die simptome van ‘n baie siek samelewingselement.
“Ons is baie dankbaar vir die baie sterk Christelike ruggraat in die land, en ons kan ons kwalik indink wat die situasie in die afwesigheid daarvan sou wees. Dit moet eenvoudig uitgebrei word – nie net op papier nie maar in die harte en verstand van mense, en die laaste ding wat die land nodig het is ritse kwasi-godsdienstige uitsprake vir politieke gewin wat aan godslastering grens.
“Om skok oor simptomatiese gevolge uit te spreek soos die minister oor die jongste vlaag kindermoorde waarvan baie met seksuele dade verband hou, of oor die voorkoms van Vigs, spreek nie die grondoorsake aan nie.”

Ons mag verkrag, sê mans
2011-10-14 08:08

Elsabé Brits

Kaapstad – Suid-Afrika se reuse-verkragtingsprobleem is opnuut belig in ’n omvattende studie van die Mediese Navorsingsraad (MNR).

In dié studie, onder leiding van prof. Rachel Jewkes, het 27% van die 1 700 mans wat daaraan deelgeneem het, erken hulle het al ’n vrou of meisie verkrag.

Hiervan het tot 80% gesê hulle het dit gedoen “omdat hulle geregtig is op seks wanneer hulle dit wil hê”.

Meer as die helfte van die mans wat erken het dat hulle al aan ’n groepsverkragting deelgeneem het, het gesê hulle doen dit “vir die lekker” en “dit is net ’n speletjie”.

Byna ’n tiende van die mans in die studie was al deel van ’n groepsverkragting.

Die studie is gedoen onder 1 700 mans van alle rassegroepe.

Die meeste selferkende verkragters is tussen 20 en 35 jaar oud.

Jewkes het op die forum van die seksuelegeweld-navorsingsinisiatief in Kaapstad gesê ondanks al die veranderings die afgelope 15 jaar om vroue te bemagtig in die regering, sakewêreld en onderwys, is daar geen bewyse dat geweld teen hulle daal nie. “Van April verlede jaar tot Maart vanjaar is 56 272 verkragtings aangemeld.”

Sy het gesê tot die helfte van die mans het aangedui hulle het geen berou oor hul dade nie en daar was ook geen nagevolge nie. Dit blyk ook ’n verkragter oortree nie net een keer nie, maar meermale.

Ander bevindings van die studie sluit in:

– 42% van die deelnemers het al ’n lewensmaat of eggenoot geslaan;
– 54% was skoolboelies;
– 40% is op skool geboelie;
– 7,7% het al meer as tien keer verkrag, en
– 16,4% het verkrag toe hulle tussen 10 en 14 jaar was

Volg Nuus24 op Twitter

– Volksblad