Subscribe by Email

Skeidsregters of stiefregters

Die messe word al meer geslyp vir swak skeidsregtervertonings – soms waar een span behoorlik benadeel word teenoor ‘n ander.

Maar eerder as die klem op partydigheid, is die rugby-ringkoppe eerder bekommerd oor die skokkende vlakke van onfiksheid onder die wêreld – en ook Sanzar – se “voorste” skeidsregters.

Die jongste debakel was toe die fluitjie in die ander mond was, en die Sharks die stiefregterbenahndeling by die Nieu-Seelander Bryce Robinson gekry het wat die Cheetahs ‘n week of wat tevore teen die einste Sharks op die lyf geloop het.

In die wedstryd tussen die Sharks en die Crusaders het die skeidsregter se vreemde vertoning min invloed op die uitslag gehad, maar dit is ook onbekend wat die impak op die Sharks was deur hulle veral vroeg in die wedstryd so in ‘n toestand van onsekerheid in te blaas.

Nieu-Seelandse en Australiese rugby-ondersteuners was veral na die Sharks-Cheetahwedstryd erg ontstoke en het openlik gesinspeel Suid-Afrikaanse skeidsregters en hul assistente langs die kantlyn beïnvloed sekere wedstryde om sekere Suid-Afrikaanse spanne ten koste van die Australasiese spanne op die puntelys te bevoordeel.

Een van die gevolge van moeë skeidsregters en lynregters is volgens die rugby-ringkoppe die baie drieë wat vanjaar van vorentoe-aangeë gedruk is. Fikse skeidsregters en hul kantlyn-assistente sukkel nie om so by die spel te bly dat sulke aangeë van onmoontlike hoeke af beoordeel moet word nie.

Ongeag die rede vir die swak en lamlendige skeidsregter-optrede, bly die vraag of neutrale skeidsregters nie nou aangewese is nie. Dit is aan die een kant ‘n klap in die gesig van die professionaliteit van skeidsregters, en is ook baie duur. Maar rugby het nou maar te ene male ‘n peperduur, professionele sportsoort geword, en kan swak skeidsregters gewoon nie bekostig nie.

Die ander kant van die munt is agter dat SARFU se besluit om die spanne wat om die Curriebeker meeding tot 6 te verminder, duidelik aandui dat dié reeks se waarde in die oë van die rugbybase afneem, en uiteindelik dalk in die slag sal moet bly. ‘n Debat oor die “wysheid” hiervan is ‘n ander gesprek. Maar juis hierdie realiteit maak dit noodsaaklik dat die Superreeks dan nie deur skelm of onbekwame skeidsregters geknou moet word nie.

Suid-Afrika word juis nou by beweerde wedstrydknoeiery in sokker betrek. Fifa ondersoek die optrede van die skeidsregter Ibrahim Chaibou van Niger, wat twee Bafana-bafana-wedstryde insluit. Dit is die oefenwedstryde vir die Wêreldsokkerbeker teen Guatemala en Colombia. SA het beide gewen, terwyl ‘n onlangse wedstryd tussen Nigerië en Argentinië waar die Argentyne met 4 – 1 afgeslag is, die laaste druppel was wat Fifa se beker laat oorloop het.

Suid-Afrikaanse sportgeesdriftiges is gewoonlik uitstekende kenners van die spel. Min dinge kan die smaak vir die spel so wegneem soos ‘n skeidsregter wat skelm of onfiks ploeter.

Herman Toerien