Subscribe by Email

Sjina verbied invoere van SA Wol

Cape Wool het ‘n beroep op wolprodusente gedoen om hul wol op die gewone manier aan makelaars te stuur en ook ‘n reserweprys daarop te plaas. Dit volg nadat Suid-Afrikaanse wol van môre af as gevolg van slenkdalkoors nie meer na Sjina uitgevoer mag word nie.

Dit is môre die eerste dag van die wol verkoopseisoen. Die woordvoerder van Cape Wool, Ona Viljoen, het ook ‘n dringende beroep op produsente gedoen om nie hul wol aan die mark te onttrek nie. Sy sê uitvoere na ander lande soos Brittanje, Duitsland, Indië en Taiwan gaan steeds voort.

Sjina is die enigste land wat ‘n sertifikaat van die departement van landbou vereis waarin bevestig word dat slenkdalkoors nie in die gebiede voorkom vanwaar die wol afkomstig is nie. Cape Wool sê weens die verspreiding van slenkdalkoors is dit nie meer moontlik om die wol te sertifiseer nie. Suid-Afrika het verlede jaar 933-miljoen rand se rou wol na Sjina uitgevoer. ‘n Tegniese span het intussen na Sjina vertrek om moontlike alternatiewe te bespreek.