Subscribe by Email

Siriese opstand (Opdatering)

Nadat berigte die afgelope paar dae die Weste bereik het dat Siriese tenks die stad Hama in effek omsingel het, het die berigte Sondagoggend ‘n geskokte Weste bereik dat die tenks Hama ingeval het en dat tientalle mense omgekom het. Die Berliner Unschau berig dat die Duitse Minister van Buitelandse Sake die slagting dadelik veroordeel het, verskerpte Duitse sanksies teen die Assad-bewind aangekondig het, en die vertroue uitgespreek het dat die VN se Veiligheidsraad dit verder sal voer. ‘n Ruk later is berig dat die Siriese troepe landswyd toegeslaan het waar daar betogings was, en dat die aanvanklike dodetal meer as verdubbel het. Nog lande het die Siriese regering hierop veroordeel waaronder Nederland, Frankryk, Italië en die Verenigde State. Pres. Barack Obama het pres. Bashar al-Assad as onbevoeg beskryf. Die VN-sekretaris-generaal, Ban Ki moon het sy diepe besorgdheid oor die situasie uitgespreek.

Hama is Sirië se vierde of 5de grootste stad, afhangende van hoe wyd buitewyke ingesluit word. Dit het sowat 700 000 inwoners, klein in vergeleke met die grootste stede soos Aleppo en Damaskus met 2 miljoen of meer inwoners elk, Homs met sowat een en ‘n half miljoen inwoners, en Latakia aan die kus wat ook bykans ‘n miljoen inwoners het.

Dit is bykans onmoontlik om die kompleksiteite van Sirië, wat godsdiens, etnisiteit en geografie omvat, behoorlik te snap.

Die Siriese regerende kliek, ‘n Alawiete-minderheid wat deur pres. Bashar al-Assad gelei word, duld meer godsdiensvryheid as politieke vryheid. Die Alawiete beskou hulself as deel van die Sjiïet-Moslemsekte, maar baie Soenies en Sjiïete beskou die Alawiete nie eens as Moslems nie. Die Alawiete erken bv die drie-eenheidsgedagte, waaronder, maar nie beperk tot die Christendom, nie.

Volgens sommige bronne neig Sirië se sowat 10 % Christene om simpatieker teenoor die huidige Siriese bewind, wat bykans volledig sekulêr probeer wees, as die opstandelinge te staan, juis omdat hulle nie weet hoe ‘n moontlike nuwe regering teenoor godsdienstige en etniese minderhede sal optree nie. Christene het byvoorbeeld gereserveerde setels in die parlement. Hoewel die betogings gewoonlik pro-demokrasiebvetogings genoem word, is daar ook aanduidings van ‘n Moslem-opstand.

Die Alawiete maak sowat 15 % van die bevolking uit, en die Koerde – meestal Soenies – sowat 10 % van die bevolking. Daar is ook groepe Assiriërs (meestal Christene) en Armeniërs, ook Christene. Die meeste Koerde, en baie van die Assiriërs en Armeniërs, se voorsate het vroeg die vorige eeu uit Turkye gevlug toe die Turke op groot skaal volksmoord gepleeg het.

Sowat 67 % van die bevolking is Soenie-Arabiere.

Die Alawiete het hul oorsprong hoofsaaklik in die gebied aan die Siriese kus rondom Latakia en Tarsus, en het daarvandaan na Hama en Homs versprei, en uiteindelik, danksy die invloed van die Alawiete-bewind, na Damaskus. Dit beteken egter nie dat die Alawiete hier meerderhede uitmaak nie.

Die huidige aanslag op Hama is nie die eerste of ergste nie. Hama het mettertyd die versamelpunt vir konserwatiewe Soenie-Moslems geword, veral uit die Moslem-broederskap, en in 1981-82 was dit die fokuspunt van opstande teen die Assad-dinstie, en is ‘n geraamde 15 000 tot 30 000 mense in die onderdrukking daarvan dood. ‘n Groot deel van die stad is gesloop.

Onlangs is 60 betogers glo deur die regeringsmagte daar doodgeskiet.

Luidens berigte skree die betogers in Hama nou: “As tenks in Hama inbeweeg en die betogings onderdruk, sal Sirië van die Suide na die Noorde, en van die Ooste tot die Weste ontbrand.”

Maar is hulle reg?

Damaskus in die suide en Aleppo in die noorde is tradisioneel in ‘n groot toutrekkery betrokke – wat van politieke mag tot kulturele verskille strek. Die twee stede is selfs haaks oor welke stad die oudste nedersetting ter wêreld is, met argeoloë wat meen dat dit eintlik Jerigo is wat dié eer toekom. By tye was daar aanduidings dat Aleppo en omgewing sou afstig. Was Aleppo ten gunste van samesmelting met Irak, was Damaskus ten gunste van samesmelting met Egipte – en het dit selfs kortstondig gedoen, en is Aleppo positief hieroor, wil Damaskus weer opsluit met Irak saamsmelt. Groot moeite is gevolglik gedoen om invloedryke mense van Aleppo in die regering te betrek.

Damaskus se ligging in die Suide stel hom baie bloot. Sou Hama en Homs suksesvol in opstand kom, sal Damaskus se toegang tot die see deur Israel, via die Golanhoogland en Haifa, en Libanon beperk wees. Libanon, waar Assad heelwat steun geniet, lyk na ‘n beter opsie, maar die Alawiete in Libanon is maar sowat 150 000 mense sterk, en het net twee setels in die parlement. Pro-Soenie-sentimente uit Hama en Holms kan Libanese sentimente gou omkeer.

Anders as in Irak is die Siriese bevolking nie hoofsaaklik in Mesopotamië gekonsentreer nie, en in veral noordoos-Sirië is die bevolking uiters heterogeen – met baie Koerde wat tradisioneel maar ‘n baie kort lootjie by die Assad-bewind getrek het. Hoewel Assad onlangs baie Koerde burgerskap toegestaan het, kan hy nie van soliede steun uit die ooste reken as Aleppo en omstreke die opstand volledig begin ondersteun nie.

Assad moet dus, ten spyte van die reperkussies in die buiteland, ten alle koste verhinder dat Hama en Holms in vyandelike besit beland.

Ironies sal die nuwe wetgewing wat Assad begin deurvoer om politieke partye te wettig, vir hom dalk meer kwaad as goed doen. Die kern is dat dié wetgewing partye wat op grond van etnisiteit of godsdiens, asook sake soos geslag of professie gevorm word, nie wettig sal wees nie. Die stille steun wat by minderheidsgroepe aanwesig mag wees, kan dus verdamp.

Met die ongevallesyfer wat oploop, lyk dit al hoe meer of Assad vernuftig sal moet wees om sand met ‘n tuinvurk in die kruiwa te laai. En Ramadan het nader gekom wanneer die skeppery oneindig moeiliker sal wees. Die opstandelinge, wie se betogings gewoonlik Vrydae na die gebede gevolg het, het aangedui dat hulle tydens Ramadan elke dag gaan betoog.

Volgens aansprake het die Siriese opstand reeds meer as 1 600 lewens geëis, sowat 26 000 is aangehou of word steeds aangehou, en baie van hulle is gemartel, terwyl byna 3 000 verdwyn het. Presies hoe na aan die waarheid dié oorlogspropaganda is sal eers later bepaal kan word.
Herman Toerien