Subscribe by Email

Sirië: Met satyn en die ystervuis

As die wêreldpolitiek suiwer op beginsels bedryf is, sou Sirië nou, soos Libië, onder Navo-bomme deurgeloop het.
Daar is verskeie redes waarom dit nie die geval is nie. Ten eerste staan Rusland en China, met hul VN-vetoreg, en ander lande breed in die pad daarvan. Daar is ook dwarstrekkery in Navo-geledere.
Maar ook die geografiese realiteite speel ‘n rol. Waar Libië, in terme van vandag se militêre tegnologie, op Navo se voorstoep is, is die posisie met Sirië ietwat anders. Sirië word wel deur Turkye begrens, maar Turkye het ‘n uiters komplekse verhouding met Sirië wat faktore soos etnisiteit, godsdiens, die Koerdiese kwessie en die deel van belangrike riviere soos die Tigris en Eufraat insluit.
In kort – die wipplankryery van betrekkinge tussen dié twee lande beteken haarfyn tydsberekening as die een gewapende aggressie teen die ander wil loop.
In Libië is die land buiten vir ‘n strook teen die kus bykans onbewoond. Alle teikens is maklik bereikbaar. Sirië het wel ‘n bewoonde kusstrook, maar baie van sy groot stede is dieper in die binneland, waaronder Damaskus, en in die omgewing van die Tigris en Eufraat. Sirië is ook veel meer heterogeen as Libië, wat beteken dat vriend en vyand in baie dele van die land redelik verweefd woon.
Die Franse Minister van Verdediging, Gerard Longuet, het in ‘n onderhoud met Le Figaro gesê die situasies is nie vergelykbaar nie. Selfs nie die bestorming van die Amerikaanse en Franse ambassades in Damaskus deur ondersteuners van pres. Bashir al Assad, sal iets anders as sterk diplomatieke protes, of dalk nog ‘n geteikende sanksie of twee oplewer nie.
Die taktiek wat die president volg om die onluste te besweer herinner aan die model van die ystervuis en satyn. Terwyl betogers gereeld aan die hand van veiligheidsmagte sterf of beseer raak, groot getalle aangehou word, is al- Assad se hand ook nie heeltemal toe nie. ‘n Groot groep Koerde het skielik burgerskap gekry, sommige gevangenes is vrygelaat, die dekadeslange noodtoestand is opgehef en daar is sprake van parlementêre hervormings.
Al-Assad het selfs ‘n beraad belê waar oor die politieke toekoms van die land onderhandel kan word, maar dis deur bykans alle beduidende opposisiegroepe geboikot. “Wat help dit ek onderhandel en my makker sit agter tralies,” of “wat help dit ek onderhandel en die ongelukkigheid word terselfdertyd doodgeskiet?” was die algemene refrein.
Volgens menseregtegroepe het reeds meer as 1 300 betogers aan die hand van die Siriese magte gesterf sedert die onluste in middel Maart vanjaar uitgebreek het. Meer as 10 000 mense is gearresteer. Dit sal egter waarskynlik eers veel later duideliker wees wat die ongevalle werklik was.
Herman Toerien