Subscribe by Email

Simple Beauty deur André Nel (’n versameling klassieke refleksies)

Andre Nel tydens die cd vrystelling

Gister, die 30ste Mei, was ’n unieke dag in

E-Musiek/Kraaipromosies se geskiedenis, met die amptelike vrystelling van hul nuutste CD, Simple Beauty, by die Watercrest Country Estate buite Pretoria. Ons noem dit uniek, omdat dit die heel eerste klassieke CD is wat deur hulle vervaardig was en ook die beste vrystelling tot op hede.

Die kunstenaar, André Nel, het voorwaar baie goeie talent, nie net as uitvoerende kunstenaar nie, maar ook weens die feit dat al nege snitte van hierdie CD deur homself gekomponeer is. Dit vertel van ’n lewensverhaal wat die luisteraar van toepassing kan maak op sy of haar eie lewe. Die musiek neem jou op ’n reis, wat begin by die eenvoudige mooi van die lewe, die mooi wat jy kan sien in alledaagse dinge om jou, soos die reuk van ’n blom, of ’n pragtige sonsondergang.

Dan is dit tyd vir bietjie stilstaan om te dink oor jouself, oor waar jy vandaan kom, waar jy nou is en waarheen jy op pad is. Die reis duur voort en gaan ook deur jou eie eensaamheid, wat vir jou of ontvlugting, of beperking kan bring. Deur hierdie lewensreis maak mens baie foute en veroorsaak dalk hartseer aan jouself of ander, maar dan kry jy verligting oor jou skuldgevoelens wanneer jy besef dat niemand volmaak is nie en dan alleenlik kry jy vryheid.

Die musiek neem jou vêrder op reis en jy kom agter dat die lewe ook vol haakplekke is, maar met die nodige ondervinding kan jy ook dit oorkom. Jy leer hoe om intense verlange te oorkom in periodes van gelatenheid, liefde, en deernis en dan, soos soveel keer tevore, weer ’n nuwe begin te maak.

André se liefde vir musiek het op ’n jong ouderdom van 6 jaar begin toe hy die eerste keer klavier lesse begin neem het. Deur die verloop van tyd het hy ook verskeie ander instrumente bemeester. Vandag staan André nie terug vir enige pianis nie, waarvan hierdie debuut album van hom die bewys is.

Martin Lane, bekende pianis en musiekant het die volgende gese oor André se musiek: “Dis verruklike mood musiek, pragtige komposisie. Goeie instrumentasie en balans tussen instrumente. Die harp arpeggios is baie kundig ingespan as deurlopende “ritme”. Well done sir.”

Die Watercrest Country Estate was natuurlik ook die ideale plek om die CD bekend te stel. Die rustige atmosfeer en pragtige tuine, wat gepaard gaan met hul professionele diens, het die dag volmaak gemaak.

Kontak E-Musiek/Kraaipromosies om jou kopie van hierdie CD te bestel.