Subscribe by Email

Siener van Rensburg: Rigter of profeet?

Wat hou die toekoms vir die Afrikaner volgens Suid-Afrika se bekendste siener, Niklaas van Rensburg in?

Alvorens hieroor kop uitgesteek kan word, is dit nodig om ‘n bietjie in die siener se kop te kom, en hiervoor het ‘n uitstekende boek onlangs op die rak verskyn.

Die boek, Niklaas van Rensburg, Die Siener, deur AWG Raath het nou reeds verskeie resensies en artikels opgelewer. Raath se amperse lewenstaak om so ‘n volledige beeld van dié merkwaardige man te skep, bied egter eerder ‘n bykans onuitputlike bron waaruit verskillende fasette onder die loep geneem kan word as, as ‘n bron vir ‘n enkele artikel.

Oor die jare het soveel werke oor die siener die lig gesien wat ‘n skewe beeld skets, dat enige bespreking ook die wegdoen van ‘n klomp mites behels. Hierdie skewe beeld is ironies help vestig deur die siener se eie kinders, wat onderling verskil het oor wie die beste persoon sou wees om hul pa se werk na waarde te boek te stel.

In die proses is die persoon wat stellig meer as enige ander persoon geskik sou wees, ook deur gereelde persoonlike besoeke te perd oor lang afstande, Boy Mussmann, daarin kon slaag om Van Rensburg se vertroue te wen en “in sy kop te kom”, oor die hoof gesien. Mussuman het geglo dat Siener se visioene sal vir die Afrikanervolk van belang wees.

Onlangs nog het Hannes Haasbroek, historikus van die Nasionale Museum, terloops in ‘n artikel na Raath se werk en die sieners verwys: “Siener, die man wat deur sy “visioene” (daar is bespiegelinge dat dit aan ’n vorm van epilepsie toegeskryf kon word) onder meer planne van die Britse magte opgerakel het en die vertroue van verskeie Boere-aanvoerders geniet het. Maar helaas het sy voorspelling met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog, dat die voormalige Boererepublieke maklik teruggewin kon word, lelik geboemerang soos weerspieël in die mislukte Rebellie van 1914 en gepaardgaande dood of gevangeneming van bekende Boereleiers.” (Volksblad).

‘n Behoorlike deurlees van die boek sou egter aan die lig bring dat Siener juis nie as ‘n soort Boere-Nostradamus beskou moet word nie. Siener het self, wanneer probeer is om hom as ‘n soort kristalbalkyker in te span, daarop gewys dat “die tye en geleenthede alleen by God bekend is, en dat selfs nie engele in die hemel weet nie.”

Oor die afloop van die rebellie het Siener dit duidelik gemaak: As hy sou weet wat die afloop was, en daarom sou waarsku teen die rebellie en die rebellie sou dan nie plaasgevind het nie, dan sou Afrikanernasionalisme nie herontwaak het nie. Siener het immers self aan die rebellie deelgeneem, sy eie lewe in gevaar gestel, en self agter tralies beland.

Selfs medestryders uit die Anglo-Boere-oorlog wat onoortuig gebly het of siener werklik oor die vermoë sou beskik om gesigte te sien en uit te lê, het later vertel van die “ongelooflike toeval” daarvan. Siener het onder meer tydens die Anglo-Boere-oorlog en die rebellie ‘n haas ongelooflike aantal gesigte gehad wat nie net sy eie eenhede uit penaries en omsingelings gelei het nie, maar ook ander. Soms was daar verdeeldheid of die siener se advies gevolg moes word – dié wat dit gevolg het, het ontkom, dié wat dit nie gedoen het nie, is vasgetrek. Selfs ‘n vroue-vlugkommando het so verdeeld geraak, en die tragiese is dat daar bykans geen oorlewendes in die konsentrasiekamp was van dié wat Siener se advies in die wind geslaan het, en vasgetrek is nie.

Hierteenoor het hy die oor van generaals gehad, Koos de la Rey sekerlik die bekendste, maar later sou Mussman hom ook op genl. Smuts beroep toe die Smuts-regering allerlei beperkings geplaas het op mense se geskrifte en byeenkomste, en Siener se nalatenskap skynbaar deur die regering as subversief beskou is, maar nie deur Smuts self nie.

Siener was diep gelowig en lidmaat van die Hervormde Kerk. Hy het as ouderling gedien, en selfs gepreek. Hy het nooit leer skryf nie, maar sy ma het hom uit die Satebybel leer lees – wat sy hele lewe lank al was wat hy, twee keer per dag, gelees het. By sy begrafnis in 1926 het twee predikante, een van die NG Kerk en een van die Hervormde Kerk, opgetree. Baie van sy geskrewe nalatenskap wat danksy veral die werk van sy dogter opgeteken is, word in die Hervormde Kerk Rietvallei bewaar.

Kortom, enige vermoë deur okkultisme is buite die kwessie. Die visioene is nie iets wat hy wou gehad het nie, dis iets wat hom aanvanklik bitterlik ontstel het toe hy dit die eerste keer op kommando in die Anglo-Boereoorlog ervaar het. Onder die gesigte wat hy nie sou wou gehad het nie, tel ook die dood van sy twee dogtertjies in die konsentrasiekamp. Baie ander visioene sou die fynbesnaarde Van Rensburg ontstel.

Sy enigste motief vir die benutting van sy gawe was om die mense om hom se geestelike toegewydheid aan God te verdiep. Dit was veral afgestem om die platgeslane Afrikaner van sy tyd, as rigtingwyser om getrou aan God, die herstelpad te loop.

Hy het egter klaarblyklik ‘n haas ongelooflike algemene kennis gehad. Hy sou immers nie uit ‘n visioen van ‘n bloedruppel op ‘n wit doek kon aflei dat Japan tot die oorlog sou toetree, as hy nie geweet het Japan se vlag is ‘n wit doek met rooi kol op nie. So dui die uitleg van baie visioene op ‘n groot algemene kennis van wêreldgebeure.

Baie van sy visioene was operasioneel, in dié sin dat dit die eenhede waarin hy tydens die ABO en rebellie gedien het, uit skynbaar onmoontlike situasies gelei het. Dit word veral tydens die rebellie duidelik met die trek deur die dorre Noord-Kaap waar die regeringsmagte hulle telkens vasgetrek het, net om te vind die rebelle het deur die onmoontlikste plekke uitgetrek.

Van Siener se visioene kan wel in die konteks van toekomsvoorspellings in verband gebring word. Hy het visioene oor die toekoms van Engeland en selfs ‘n derde wêreldoorlog gehad. Van sy voorspellings oor Engeland is al bewaarheid – dat Engeland sy kolonies kwyt is, dat die VSA Brittanje as ekonomiese krag sou verbysteek, en dat Brittanje baie nie-blanke immigrante sou kry. ‘n Voorspelde hongersnood en burgeroorlog in die aanloop na ‘n derde wêreldoorlog is nog “uitstaande” mits ‘n mens Siener as toekomsvoorspeller wil inspan. Oor wanneer die Derde Wêreldoorlog sou kom, het Siener sy gebruiklike antwoord verskaf, en Handelinge 1: 7 aangehaal wat in die 1983-Bybelvertaling lees: ‘Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie.” ‘

Die Grieks vir die woord wat met “weet” vertaal is, beteken letterlik “dit is nie vir jou om te weet nie”.

Hy het egter self meer gefokus op geestelike bearbeiding en onderskraging in tye toe die Afrikaner platgeslaan was.

Teen dié agtergrond kan die vraag gevra word of die Afrikaner ooit weer as vry volk sal opstaan. Siener self word dikwels “ingespan” om so ‘n bevryde situasie te “voorspel.” In die proses word dit wat Siener die hardste probeer weergee het, misgekyk: Eers, volgens Siener, moet die Afrikaner in neergeboë gees sy verering van menslike leiers laat vaar, en deur volgehoue gebed vra dat die Here weer Sy aangesig teenoor die volk sal verhef.

Om Siener se nalatenskap te fynkam vir ‘n “voorspelling” oor Afrikanervryheid, is om die wa voor die perde te span. Die Afrikaner moet éérs na sy geestelike wortels terugkeer.

En, so lyk dit uit die daaglikse nuusgebeure, dit gaan nog ‘n lang pad wees.

‘n Interessante uitvloeisel van die boek, sê prof. Raath, is dat hy nou al verskeie uitnodigings gekry het om gemeentes van die Hervormde Kerk oor die siener te gaan toespreek.

Waarskynlik het geen steeds lewende persoon so daarin geslaag om in die siener “se kop” te kom as Raath nie. Raath het immers 30 jaar lank navorsing gedoen, en dit uit ‘n magdom bronne met sy kenmerkende deeglikheid gedoen. Sowat 700 visioene is opgeteken, maar amper belangriker nog, ‘n magdom “sleutels” vir die ontsluiting van die metaforiese visioene van dié gereformeerde mistikus is ook verskaf.

Herman Toerien

One Response to Siener van Rensburg: Rigter of profeet?

  1. Charlene

    Maart 9, 2016 at 5:22 pm

    Ek is opsoek na die boek wat Siener se dogter die aantekening gedoen het. Enigeen kan verander in skrywe soos dit die skrywer pas. Waar het AWG Raath sy inligting gekry dat hy die boek geskryf het?