Subscribe by Email

Siek Dieners duur

Polisielede wat verlede jaar afwesig was by die werk weens siekte, het die belastingbetaler meer as R771 miljoen (R 771 429 000) gekos. Dit is ‘n toename van 40% (39,9) teenoor die vorige jaar (2009). ‘n Totaal van 1,5 miljoen (1 536 688) werksdae het hierdeur verlore gegaan. Dit is volgens die jaarverslag van die Polisie in die tydperk vanaf 1 Januarie 2010 tot 31 Desember 2010. Siekverlof alleen het R663,391 miljoen en permanente en tydelike onbevoegdheidsverlof het R108,038 miljoen beloop. Die kategorie waar afwesigheid weens siekte die meeste voorgekom het was by geskoolde lede (vlakke 3-5) en die tweede meeste by hoogs geskoolde lede (vlakke 6-8). Geskoolde lede was 646 074 dae en hoogs geskoolde lede 570 345 dae afwesig.

“Wat werklik kommerwekkend is, is die 40% toename van siek lede en dat hoogs geskoolde en geskoolde lede die meeste siek is. Hierdie kategorie van lede vorm die kern van die Polisiediens wat misdaad moet ondersoek. Die syfers toon dat daar ‘n ernstige probleem is wat aandui dat Polisielede in hierdie kategorieë of oorwerk is of onder te veel druk en spanning geplaas word. Deel van die druk en spanning is ook dat sommige lede nie behoorlik opgelei is vir die taak wat hulle moet verrig nie,” sê mnr. Pieter Groenewald, hoofwoordvoerder vir Polisie van die Vryheidsfront Plus.

“Hierdie probleem neem jaarliks toe en volgens die jaarverslag het 138 839 lede verlede jaar siekverlof of permanente of tydelike onbevoegdheidsverlof geneem. Dit is meer as 50% van die totale polisiemag. Cele moet sê wat hy gaan doen om die probleem op te los,” het Groenewald gesê.