Subscribe by Email

Ses polisimanne in 24 uur vasgetrek oor korrupsie

‘n Polisieman en ‘n reservis is in Krugersdorp aan die Wes-Rand in hegtenis geneem in verband met korrupsie. Na bewering het die beamptes ‘n man voorgekeer omdat hulle glo vermoed het dat hy onder die invloed van alkohol was.

Hulle het geld by die man geëis en hom na ‘n kitsbank geneem om geld te trek. Die man het die geld aan hulle oorhandig en kort na die voorval, dit by die Gemeenskapspolisiërings forum aangemeld. Die polisiebeamptes het later, nadat hy hulle daaroor gekonfronteer het, die geld teruggegee. Hulle sal in Johannesburg aangekla word van korrupsie en regsverydeling.

Vier polisielede is in Sebokeng suid van Johannesburg vasgetrek omdat hulle na bewering ‘n motoris vir omkoopgeld gevra het. ‘n Polisiewoordvoerder Nevile Malila, sê die groep het omkoopgeld van ‘n verkeersoortreder geëis wat die saak by die polisie aangemeld het.