Subscribe by Email

Sensus

(Die skrywer was tydens die vorige sensus provinsiale publisiteitsbeampte vir die sensus in die Vrystaat en daarna nasionale publisiteitsbeampte vir die landbousensus).
Uit die aanvanklike promosiemateriaal vir vanjaar se sensus, is die indruk geskep dat lesse met die sensus van ‘n dekade gelede ter harte geneem is, en dat regstellings gedoen sal word.
Die eerste promisie-artikel in die Afrikaanse pers ‘n paar maande gelede was nie net wat inhoud betref, ‘n goeie artikel nie, die artikel is ook op een of twee woorde na in goeie, keurige Afrikaans opgestel.
Die artikel het die doel, metodes, die hoekoms en talle vrae bondig, maar volledig saamgevat.
Tog loop die sensus hom in ‘n erge nukkerigheid vas. Baie van die weerstand is teen die sogenaamde “onnodige” vrae. Hoekom wil die staat weet hoeveel mikro-golfoonde ek het?
Al hierdie vrae was reeds volledig beantwoord.
‘n Artikel wat ek geskryf het om gerus te stel, om weer te verduidelik, is in Nuus 24 geplaas en het ‘n stroom negatiewe kommentaar ontlok. Van die kritiek was duidelik vooraf-opgestelde argumente, soos om stellings te maak wat duidelik wys die persoon het nie die artikel gelees nie. En ja, van die kommentators het oor stellings gestry. Wie het intensiewe sensusopleiding ondergaan – ek of hulle?
En ja, ek is ook teleurgesteld in sekere voornemens wat duidelik (weer) nie op grondvlak gemanifesteer het nie. So is weer onderneem dat die sensuswerkers dié keer in hul eie omgewings aangestel gaan word – dus mense wat aan ‘n omgewing bekend is, wat die tale van die omgewing ken, wat toegang deur byvoorbeeld die plaaslike kerke kan kry…
Maar weer kom die vreemdelinge van ver. Bedags, wanneer die mense by die werk is, kom die sensuswerkers om, en saans wanneer die mense tuis is, het die laaste busse na die sensuswerkers se huise vertrek. Om maar een probleem te noem.
Met die vorige sensus het ek persoonlik toegesien dat die protokol vir plaastoegang bekom, en aan die sensuspersoneel besorg is. Dis ‘n ooreenkoms tussen die destydse president, Thabo Mbeki en die georganiseerde landbou. By al wat landboukongres en ander vergadering verseker ek die boere die sensuswerkers weet hulle moet die protokol nakom. Die ganse sensus, as boere kla oor die mense wat sonder afsprake op plase aankom – gewoonlik met ‘n klomp nie-sensuspersoneel saam in die kar, dikwels met lekker asempies aan hulle, was my boodskap dieselfde: Laat kom die polisie en laat hulle vir betreding toesluit.
Natuurlik het die boere nie so ver gegaan nie, maar die optrede het samewerking bemoeilik.
Na die sensus blyk dit die sensusbestuur in die provinsie het besluit om die protokol nie toe te pas nie omdat dit onprakties sou wees. Dis nie aan my gekommunikeer nie, maar was in elk geval die eerste keer dat ek hoor ‘n taamlike junior beampte het die gesag om ‘n president se besluit ter syde te stel.
Om die werking van Statistieke SA te verstaan, moet ‘n mens iets van die Statistikus-generaal, Pali (uitspraak Padi) Lehothla verstaan.
Hy werk in ‘n departement waarvan die personeelgetalle geweldig wissel soos wat daar opnames en sensusse gehou word. Tog, kort voor lank, ken hy omtrent almal op die voornaam, ook die mense in streekkantore. Hy sal niks daarvan dink om by ‘n junior beampte in te stap, en te vra hoe dit met die gesin gaan nie. Hy onthou detail, soos in my geval dat my jongste seun gestremd is.
En hoe gaan dit met hom? Hy stel intens belang.
Hy kom van Lesotho af, maar tot my verbasing, by ‘n bruin skool op die Kaapse Vlakte, pak hy ‘n hele klomp Afrikaans uit. Sy besoek aan Orania het my nie verbaas nie – met die vorige sensus is ek deur die Noord-Kaapse kantoor versoek om vir hulle toegang te beding.
Pali is te goedgelowig, en word uitgebuit.
Maar hy, soos ek verneem van baie statistici, het nie ‘n baie goeie ruimtelike insig nie. Met die uitrol van iets soos ‘n sensus is ruimtelike insig broodnodig. Met die vorige sensus het die Britse regering ‘n skolesensus geborg om saam met die sensus te loop. Dit het in ‘n laat stadium bekend geword.
Tegnies moes dit geen logistieke probleem veroorsaak nie – elke sensuswerker moes basies met ‘n vooraf opgemaakte boksie vraelyste by skole in hul opname-area afgee, en weer later bymekaar maak. Onbedoeld het dit egter ‘n uitvangmeganisme geword vir sensuswerkers wat beplan het om te kierang, en soos dit gestel is, die vorms onder die bome in te vul (ja, dit het op groot skaal gebeur). Spoedig blyk dit die boksies kom nie by die skole uit nie, maar die heel tyd is gesê dit het daar uitgekom. Toe die boksies moes terugkom, bly dit uitstaande. Op groot skaal.
Planne word gemaak om dit te versprei, en ek luister per telefoonkonferensie hoe te werk gegaan word.
Sommer gou berig Limpopo hulle het met die paar motors wat hiervoor beskikbaar gestel is, al die skole bereik.
Ek ken van plaasskole, en doen ‘n sommetjie. Daardie karre in Limpopo het almal teen ‘n gemniddelde spoed van meer as 900 kilometer per uur gery. Ten spyte van die ooglopende absurditeit word die bestuur in Limpopo se woord daarvoor aanvaar. Later blyk dit die vorms is goed soos glad nie versprei nie, en ook nie afgehaal nie.
In die Vrystaat stel die weermag (ja, van die Kommando’s het nog bestaan en as besonder hulpvaardige hulpinstelling gehelp) twee vragmotors beskikbaar. Die een is egter stukkend, en die ander moet al die skole, insluitend plaasskole, in die Vrystaat binne ‘n week bereik. Die sensusbestuurder beloof dit sal gedoen word, en Pali glo hom.
Maar is so ‘n belofte haalbaar?
Daar was toe ongeveer 1 500 plaasskole in die Vrystaat (afgesien van die skole in die sowat 70 nedersettings. Volgens Vrystaat landbou is die plaasskole gemiddeld ongeveer 20 kilometer uitmekaar. Dit gee ‘n afstand van sowat 30 000 kilometer net na plaasskole om met een weermagvoertuig in een week af te lê. Neem die padtoestande, hekke en ander logistieke probleme in ag, en dat by elk van die skole minstens ‘n halfuur spandeer moes word om die in vul te verduidelik – en die vraelyste moes later weer opgelaai word.
Selfs die sensuswerkers in die omgewing kan nie help nie, want hulle kan nie vraelyste gaan afhaal wat nooit afgelewer is nie.
Dat sommige senusopnemers aangestel is om op plase te werk sowat 400 kilometer van hul woonplekke af, het ook nie gehelp nie. Na bewering moes hierdie “spookwerkers” die helfte van hul soldy aan die mense wat hulle aangestel het sonder die verwagting om ooit by hul werkstasies uit kom, oorbetaal.
Kort na die vorige sensus is ‘n hele aantal van die personeel bevorder, sommiges sommer indrukwekkende bevorder vir hul “prestasies” en eers ‘n hele ruk hierna het die OG-verslag die sensus afgekeur, en het dit geblyk dat die sensus ‘n foutfaktor van sowat 17 % gehad het, vergeleke met die VSA waar ‘n vier persent foutfaktor onaanvaarbaar is.
Dit lyk egter nie of die kinkels van die vorige sensus veel tot die negatiwiteit bygedra het nie.
Onkunde speel ‘n groot rol, en dit is waarskynlik deels veroorsaak daardeur dat die vorige sensus tien jaar gelde, in plaas van vyf jaar gelde, plaasgevind het.
Net in die Vrystaat alleen het meer as 1 700 mense die tolvrye nommer gebel om te sê hulle is nie getel nie. As ‘n mens op die aanname werk dat net sowat een persent mense die moeite sal doen om te laat weet hulle is nie getel nie, kan ‘n mens dalk ‘n idee kry van hoeveel mense is nooit getel nie, of hul vorms is onder die bome ingevul.
Trouens, baie middeljariges het dalk nog nooit ‘n sensusvorm gesien nie. En met die huidige reklame wat gewoonlik bloot noem dat die sensus oor ‘n koppetellery handel, is dit seker baie moontlik dat baie mense nog nooit voorheen blootgestel was aan die feit dat sensusse eintlik volledige sosio-ekonomiese en demografiese opnames is nie, met die doel om beplanning te doen.
Tog, die rede vir die weersin teen die sensus moet dalk eerder gesoek word in die Malema-Manyi-verskynsels. In ‘n hoogs gepolariseerde gemeenskap loop die wantroue hoog. Dan word die rassevraag wat vir demografiese doeleindes benodig word se motief om vas te stel hoeveel kan nog uit die blankes gewurg word.
‘n Tweede probleem bly een van onkunde. Met die vorige sensus, na die sensus al op al wat radiostasie bekend gestel is, dit op TV en in die koerant was, verskeie vergaderings toegespreek is, het bykans niemand geweet van die sensus nie. Uiteindelik stel ek voor daar word oorweeg om die sensus via die storielyne van Egoli (dit het toe nog bestaan) of Sewende Laan bekend te stel. Pali het toe so ‘n insetsel in Isidingo gelewer.
Toe kom die deurbraak. ‘n Joernalis (in die Vrystaat) vind uit die sensusbestuur het dit goed gedink om sommer in elke sensuspak ook ‘n paar kondome in te sluit. Hy spot oor sensuswerkers wat dalk ‘n los gelukkie kon raakloop, en dan sommer “toegerus” is daarvoor. Dié storie was vir die sensus ‘n los gelukkie. Oornag het bykans almal van die sensus kennis gedra. Dié keer, so lyk dit, ontbreek die “los gelukkie” en lyk dit of Statistieke SA se regsoptrede teen weieraars dalk die ding gaan doen.
Tog – moet daar nie vrae oor ‘n vol se ingesteldheid gevra word as die telefone tjoepstil is solank Sewende Laan aan die gang is, en skielik begin lui as die huismense nuus wil kyk nie? Hoeveel sê dit vir skoolleerplanne as iemand dwarsdeur die skool gaan sonder om eens die mees basiese begrip van ‘n sensus te hê?
Of is die publisiteit dié keer nog meer gebrekkig as tevore gedoen?
‘n Sensus is nie veronderstel om politiek gelaai te wees nie.
In plaas daarvan om nukkerig te weier om aan die sensus deel te neem, help eerder om te verseker dat dit skoon is. ‘n Belangrike manier is om, as dit duidelik blyk die sensusopnemers gaan u oorslaan, die tolvrye nommer 0800 110 248 te skakel en te rapporteer u is nog nie getel nie. Wanneer die tellery verby is, en u is nie getel nie, bel weer.
Vang u sensuswerkers op u plaas wat sonder afspraak gekom het, bel die tolvrye nommer en rapporteer hulle. Rapporteer dit ook aan u landbou-organisasie sodat plaasveiligheid nie deur die sensus gekompromitteer word nie. Daar is nog ‘n belangrike rede: As die sensuswerkers nie die boer tuis aantref nie (wat waarskynlik die geval sonder afspraak sal wees, gaan hy die plaaswerkers vra wat u inkomste is, hoe oud is, en al daai taai vrae. En u kan maar self oordeel hoe goed toegerus u plaaswerkers is om daardie vrae te beantwoord.
En vertrou dat die sensusbestuur die lesse wat geleer word, ter harte sal neem en volgende keer nie net lippediens aan goeie voornemens betoon nie.
En na afloop: Onthou, ‘n verklikker van korrupsie is nie ‘n slegte persoon nie. In teendeel, hy is ‘n held. As u dus van korrupsie met die sensus kennis dra, rapporteer dit aan die Ouditeur-generaal.
Slegs so gaan ons min of meer kommervrye sensusse kry.
Herman Toerien