Subscribe by Email

Sensus belangrik – FW-Stigting

Die Nasionale Sensus, wat tans in proses is, speel ‘n groter rol in ons ingewikkelde gemeenskap as wat normaalweg die geval met sulke sensusse in ander lande sou wees.

Dit is in die eerste plek te wyte aan die besondere rol wat ras toenemend in ons lewens speel. Ingevolge die heersende ideologie van demografiese verteenwoordiging mik die staat op ‘n situasie waar eienaarskap van die ekonomie en van grond asook beheer, bestuur en werkneming binne die staat-, private- en nie-regeringsektore uiteindelik die rasse samestelling van Suid-Afrika sal weerspieël.

Staatsdepartemente ontwikkel indiensneming- en bevorderingstrategieë wat sterk beïnvloed of bepaal word deur persentasies van die bevolking wat elke rasgroep verteenwoordig. Dus het die Department van Korrektiewe Dienste onlangs ‘n amptelike beleid begin toepas waarvolgens die persentasie van bruin werknemers in die departement stelselmatig tot 9% verlaag sal word, selfs in die Weskaap waar bruin Suid-Afrikaners ‘n 55% meerderheid uitmaak.

Die rassepersentasies wat deur die 2011 Sensus onthul sal word kan derhalwe ‘n baie direkte rol in die toekomstige werks- en bevorderingsverwagtinge van gewone Suid-Afrikaanse burgers speel. Om daardie rede is dit seer sekerlik van die allerhoogste belang dat die statistieke wat deur die Sensus voortgebring sal word so akkuraat as moontlik moet wees – en verkieslik nie aan ‘n beweerde 17% foutfaktor onderworpe moet wees nie – soos klaarblyklik die geval was in die 2001 Sensus nie.

‘n Verdere rede waarom die Sensus belangrik is, is omdat dit ‘n geleentheid bied om die vordering wat Suid-Afrika sedert 2001 met betrekking tot die nastrewing van gelykheid gemaak het te meet aangesien gelykheid en die daarmee gepaardgaande menswaardigheid tereg sleutel doelwitte van ons grondwetlike bestel is. Weereens, is een van die grootste probleme in die meting van vordering die afwesigheid van akkurate statistieke.

Daar is verskeie faktore waarvolgens ons gelykheid kan meet: in die eerste plek inkomste vlakke; in die tweede plek, onderwysvlakke; en in die derde plek die mate van werkloosheid en indiensneming onder ons verskeie bevolkingsgroepe.

So byvoorbeeld het blanke Suid-Afrikaners in 2001 24.5% van die 5,2-miljoen mense in die land verteenwoordig wat matriek as hul hoogste kwalifikasie gehad het en 43% van die 2,15-miljoen mense met kwalifikasies hoër as matriek. Terselfdertyd het 913 584 blanke Suid-Afrikaners – amper 30% van die totaal bo die ouderdom van 20 – laer kwalifikasies as 3.92-miljoen swart, bruin en Indiër Suid-Afrikaners.

Blanke inkomste was egter veel hoër as die van hul landgenote en het 69% van die groep met inkomstes bo R6 400 per maand uitgemaak – (wat vir my ‘n bietjie onwaarskynlik lyk). 1,19-miljoen swart, bruin en Indiër Suid-Afrikaners het egter dieselfde – of meer – verdien as 1,09-miljoen blanke Suid-Afrikaners, d.w.s. 58,4% van blanke werknemers.

Waar blankes baie beter as anderkleuriges gevaar het was op die gebied van indiensneming. Volgens die 2001 sensus was 28,1% van die swart bevolking tussen die ouderdomme van 15 – 65 werkloos, terwyl slegs 27,8% gewerk het. Onder blankes was slegs 4,1% werkloos, terwyl 61,4% in diens was.

Ander statistieke wat uit die 2001 verskyn is ewe interessant: byvoorbeeld volgens die sensus het 18,7% van die swart bevolking destyds nog in tradisonele huisvesting gebly terwyl 20,4 % in informele behuising woonagtig was.

Die 2011 Sensus sal ons in staat stel om te bepaal hoe hierdie sleutel statistieke intussen verander het. Die inligting veroorsaak onvermydelik ook vrae oor relatiewe rasverbonde nadeel en voordeel. Waarom moet die 914 000 blankes wat laer kwalifikasies as 3,92-miljoen anderskleuriges outomaties as bevoordeeld geag word wanneer mense uit die twee groepe om dieselfde werksgeleenthede meeding? En hoe kan dit wees dat die 1,19-miljoen swart, bruin en Indiër Suid-Afrikaners wat dieselfde of meer verdien as die armste 57% van blankes outomaties as meer benadeeld beskou word? Dit maak eenvoudig nie sin nie.

Ons land het betroubare inligting nodig om te verseker dat die nasionale debat op ‘n billike en gebalanseerde wyse voortgesit word.

Om hierdie redes doen die FW de Klerk Stigting ‘n beroep op alle betrokkenes by die 2011 Nasionale Sensus opname om die proses nougeset te volg en om gedurende die volgende drie weke saam te werk om Suid-Afrika se bevolkingstatistieke akuraat en betroubaar te hersien.

One Response to Sensus belangrik – FW-Stigting

  1. Joe

    Oktober 15, 2011 at 6:51 pm

    En wie de hel is dom genoeg om twee keer na FW de Klerk te wil luister?? Die ou LUIS moet eerder sy bek hou en loop vrek daar waar hy wegkruip. Die DOOS!