Subscribe by Email

Selebi en uitsprake oor lewe en dood

“Die vroeë vrylating van Jackie Selebi op mediese parool, onderstreep net die verwarring as  ‘n mens die kwessie van lewe en dood deur ‘n liberale sekulêre bril beredeneer,” sê Linda Pretorius, woordvoerder van die Christen-Demokratiese Party (CDP).

“Die debat bestryk die hele spektrum – van aborsies op aanvraag, genadedood, mediese hulp aan misdadigers en die armes, ens.

“In Suid-Afrika het die Grondwetlike Hof in die geval waar ‘n persoon se lewe van dialise afgehang het, beslis dat die staat se verantwoordelikheid teenoor die reg op lewe waar die persoon self nie die koste kan dra nie, beperk word deur die staat se vermoë om die mediese hulp te bekostig. Die persoon, wat nié ‘n misdadiger was nie, is dood kort na die dialise opgeskort is.

“Selebi moet nou, volgens Korrektiewe Dienste, self vir sy verder mediese koste opdok na hy op mediese parool vrygelaat is. Maar Selebi skuld die belastingbetalers sowat R17 miljoen aan regskostes, wat in beginsel beteken dat hy nie die peperduur dialise sal kan bekostig nie. Die Grondwetlike Hof se uitspraak beteken tegnies dat Selebi deur sy vrylating nou na ‘n vroeë dood gestuur word. Maar ons weet ook dat sy politieke verbintenisse te heg is om so iets te laat gebeur.

“Dieselfde morele dilemmas geld wanneer ‘n gesprek oor genadedood gevoer word met die uitsluiting van Christelike beginsels oor hoe die Bybel rigting gee oor die beskerming van lewe, en ook Christus se voorbeeld van barmhartigheid.

“Liberale sekulêre waardes kon nog nie ‘n behoorlike rasioneel verskaf oor hoekom die doodstraf vir moordenaars afgeskaf is, maar aborsies op aanvraag van onskuldige ongebore babas toelaat nie. Regter Antonin Scalia van die Amerikaanse Supreme Court het pas in ‘n onderhoud met CNN gesê die hofuitspraak waarvolgens aborsies op aanvraag in die VSA gewettig is, Roe versus Wade, regstegnies nie sin maak nie.

“Die soort kwessies sal minder gereeld opduik as Christelike beginsels en moraliteit herstel word – waar mense minder geneig sal wees om hulle aan korrupsie te vergryp en minder geneig sal wees om onverantwoordelik ongewenste lewe t verwek. Maar wanner dit wel gebeur, ons met die nodige deernis sal reageer.

“Die Selebi-geval word gekompliseer oor die patroon dat mense wat politiek goeie verbintenisse het skynbaar net simboliese tydperke agter die tralies deurbring, indien hulle hoegenaamd toegesluit word. Boesak, Yengeni, Shaik en nou Selebi is ‘n indrukwekkende lys, terwyl Clive Derby-Lewis blykbaar bestem is om in die tronk te sterf. A n die ander kant het ten minste twee mense gesterf terwyl hulle op die uitslag van aansoeke vir mediese parool gewag het.”

One Response to Selebi en uitsprake oor lewe en dood

  1. Gerrit

    Augustus 15, 2014 at 9:29 am

    ANC misdadigers gaan nie tronk toe nie, finish en klaar, want hulle is bo die wet verhewe.