Subscribe by Email

Sekurikrasie en tegnokrasie

In die derde artikel waar tegnokrasie onder die loep geneem word, word die sekurikrasie as moontlike manifestasie bespreek.

Veral tydens die presidentskap van pres. PW Botha het die sekuraksie ‘n hoogtepunt in Suid-Afrika bereik. Hierdie sekurakrasie het egter nie net oor skiet en spioenasie gehandel nie.

Die Veiligheidbestuurstel met name soos die Staatsveiligheidsraad, die Sekretariaat van die Staatsveiligheidsraad (SSVR), GBS en vele meer – tot uiteindelik die gemeenskapskakelforums, was alledaagse name, en was die antwoord op die totale aanslag.

Die begrip, totale aanslag, het reeds verklap dat dit nie net oor gewere, landmyne en handgranate gehandel het nie. Politieke sosioloë het ‘n kernelement van die teenoffensief uitgemaak, met as basiese veronderstelling dat die revolusionêre klimaat aangehelp word deur ‘n toestand van relatiewe deprivasie. Dit sou hom veral op die sosio-ekonomiese terrein afspeel.

Die uitgangspunt was dat as die gaping tussen verwagtinge en realiteit te groot word, ontwikkel ‘n klimaat gunstig vir rewolusie.

Om hierdie probleem die hoof te bied is van departemente verwag om op ‘n gestruktureerde en gekoördineerde manier hul begrotings en hulpbronne aan te wend. Selfs die Bevolkingsontwikkelingsprogram – met gesinsbeplanning as doelwit – het groot moeite gedoen om knelpunte te identifiseer en in die erns van behoefte te rangskik.

Die oorhoofse gevolg was dat die regering – die politici – van die hoogste tot die laagste vlak deur kundiges op ‘n groot verskeidenheid velde en vakgebiede geadviseer is. Trouens, in ‘n stadium was dit moeilik om te bepaal wat die sterkste invloed op uitvoering gehad het – die Kabinet of die SSVR. Dit is waarskynlik op individuele grondslag bepaal aan die hand van hoe sterk ‘n spesifieke minister se persoonlikheid was.

Voeg hierby ander liggame van tegnokrate, soos die Ekonomiese Adviesraad.

Wat die SSVR betref, was daar ingeboude swakhede. Strepe “kundiges” het met planne aangeklop, en het hulle oor ‘n doktorsgraad in Staatsleer (soos politieke wetenskap toe geheet het) beskik, was hulle koppe omtrent deur om geld vir allerlei projekte te kry. Dié projekte het gou uitgelek omdat dieselfde patroon dikwels gevolg is – ‘n uit die bloute-instelling met ‘n deftig klinkende Engelse naam, jong, onervare veldpersoneel, duur motors en dikwels baie geld om aan te wend.

Dinge het dan dikwels in die veld gelol wanneer die funksies van ervare staatsamptenare, van wie se bestaan die SSVR skynbaar onbewus was, met die brouwerk van hierdie “Fly high”-“NRO’s” gekonfronteer is.

Waarskynlik die sleutel-probleem was dat die staat sy eie verhoudingsaksie (aanvanklik die verhoudingsbeamptes met hul verhoudingskomitees) te laag gegradeer het. Die hoofverhoudingsbeampte het die rang van assistent-direkteur gedra, ‘n relatiewe junior pos en die verhoudingsaksie was dus dikwels in vakvreemde, en selfs openlik vyandige strukture, ingedeel. Talle gevalle het voorgekom waar senior amptenare hul persoonlike politieke voorkeure aangewend het om die verhoudingsaksie te probeer nek omdraai – en die SSVR met sy funksieverrekingsprogram is onder meer hiervoor aangewend.

Die gevolg was baie eenvoudig – die Verhoudingsaksie wat veral na afwenteling na die provinsies, funksioneel erg mank gelaat is. In die ou TPA is die aksie byvoorbeeld volledig gekaap vir sosio-ekonomiese en maatskaplike knelpunt-hantering. Van die broodnodige nie-paternalistiese hosisontale kommunikasie van die Verhoudingsdaksie was daar geen sprake nie. In Natal is die funksie gewoon nie geaktiveer nie, en die senior amptenare het dit duidelik gemaak dat dit oorbodig was – ironies van ‘n provinsie wat soveel geweld geken het.

Enige hoop om die veiligheidsbestuurstelsel as tegnokrasie te laat slaag, is gesmoor deur die miskenning van een van sy hoekpilare: die bou van die gesindhede wat nodig was, onder meer vir ‘n grondwet. Soos die destydse president van die RGN, dr. Tjaart vd Walt gesê het: “Geen staatkundige model, nie eens die beste grondwet in die wêreld, kan slaag as die mense mekaar nie verstaan en begryp nie.”

Julius Malema se uitsprake is ‘n feitlik daaglikse herinnering dat water onder die brug deur gevloei het. Die gevolg is reaktief. Terwyl die tegnokrasie, soos die veiligheidsbestuurstelsel, juis ten doel het om deur kundige advies pro-aktief te wees.

Herman Toerien

One Response to Sekurikrasie en tegnokrasie

  1. Tom Theron

    Julie 8, 2011 at 9:18 am

    Ek is nou bietjie deurmekaar – in dieselfde artikel word genoem : Sekurikrasie, sekuraksie en sekurakrasie. Wat is nou eintlik die regte spelling?