Subscribe by Email

SAUK stel die tugverhoor van drie geskorste werknemers onbepaald uit

nat-nakasa-1024x576Solidariteit sê die SAUK het die tugverhoor van drie geskorste werknemers onbepaald uitgestel, maar hulle skorsing bly van krag. Die verhoor van Thandeka Gqubule, Foeta Krige en Suna Venter sou môre begin. Die vakbond eis dat die dissiplinêre proses in die geheel opgeskort word en het ook bekend gemaak dat hy die Grondwethof dié week gaan nader vir regstreekse toegang om die grondwetlikheid van die openbare uitsaaier se sensuur-opdrag te toets. Die drie is geskors toe hulle beswaar gemaak het teen die opdrag om nie beeldmateriaal van gewelddadige betogings uit te saai nie.

Intussen word berig dat die SAUK se uitvoerende operasionale hoof, Hlaudi Motsoeneng, opdrag gegee het dat sy personeel ‘n kontrak van 167 miljoen Rand met ‘n produksiemaatskappy van president Jacob Zuma se dogter sluit. Sunday Times berig dat ‘n hersieningskomitee besluit het om nie nog ‘n seisoen van die maatskappy se dramareeks Uzalo uit te saai nie omdat daar kommer was oor die sakeplan. Motsoeneng het egter die besluit omgekeer en gesorg dat daar binne ‘n week ‘n driejaarkontrak geteken word.