Subscribe by Email

Sandy se impak op ‘n groen president

Met die dood en verwoesting wat die “perfekste storm” Sandy aangerig het, is die oë skielik op die Amerikaanse presidentsverkiesing se kandidate se standpunte oor klimaatsverandering en groen energie.

Tot dusver was beide kandidate redelik stil oor die onderwerp, maar geoordeel in die propagandaveldtogte “ontpop” pres. Barack Obama nou as “groen president” terwyl Mitt Romney die esel uitgemaak word wat negatief oor die groen kwessie staan.

En juis nou is dit ‘n slegte tyd dat ‘n verkeerde persepsie gevorm word.

Beide kandidate het tot nou hul skanse oor die groen kwessie laat val en die onderwerp grootliks probeer vermei.

In ‘n deeglike artikel in Trouw bespreek Mick van Loon die twee presidente se groen standpunte. As ‘n mens ‘n titseltjie kritiek op die artikel kan uitspreek, is dat Van Loon se pro-Obama-houding net effens uithang, veel minder as wat ‘n mens gewoonlik in die Europese pers aantref.

Tog is dit nodig dat kortliks perspektief gestel word oor ‘n paar sake wat nié in Van Loon se artikel gemeld word nie.

Romney het as goewerneur van Massachusetts die reputasie as groen goewerneur verwerf. Hy het onder meer ‘n $15 miljoen groen-energiefonds in die lewe geroep, en in 2003 nog verklaar dat hernubare energie ‘n belangrike lanseerplatform vir werkskepping kan wees.

Maar Zac Bears klim in ‘n artikel in die Daily Collegian van Massachusetts erg onder Romney se standpuntveranderings oor vele kwessies waaronder aborsie in, maar hy bring die bollemakiesieslanery oor hernubare energie regstreeks met die ramp in verband wat Sandy aangerig het.

Enorme skade kan deur sulke beriggewing aan Romney se kanse aangerig word, en Romney het min tyd om skade te ontdaan.

Adviseurs en ondersteuners is nietemin hard aan die werk, en gooi wal.

In vergelyking met die krane wat teen Romney oopgedraai word, klink Van Loon se artikel amper pro-Obama. Hy maak maalvleis van Obama-ondersteuners wat soos Bears die indruk probeer skep dat die president ‘n man van sy woord is – minstens wat die groen kwessies betref. Van Loon wys daarop dat Obama meer as enige ander president boorwerk ter see goedgekeur het. Obama het self ingegryp om strenger wetgewing om hidrobreking veiliger te maak te stuit, en het ‘n vrag groen maatreëls teruggehou. Sy verweer is dat die ekonomie dit nie toelaat nie.

Boonop toon peilings dat Obama verkwalik word vir die steenkolmyne se noustroptrekkery verkwalik – iets waaraan die president ten spyte van wat die Republikeinse sy “war on coal” noem, geen aandeel gehad het nie. Gewone marktoestande en verwante faktore moet die blaam kry.

Obama het die voordeel dat hy nou staatsfondse kan inspan om noodredding te laat doen, terwyl Romney noodwendig in die skadu gestel word.

Hoewel Obama voor Sandy nog ‘n effense gunsteling was om danksy die stelsel van kieskolleges die knoop in die verkiesing deur te haak, het sake volgens sommige peilings vir hom begin sleg lyk. Volgens die jongste Rasmussen-peiling het Obama selfs in die sleutelbelangrike staat Ohio begin agterloop, en sou Romney dié staat inpalm, was Obama minstens effens in die moeilikheid.

Die impak van Sandy op Obama se kanse kan egter dalk effens beperk word omdat die state wat nou die hardste geslaan is, in ieder geval meestal reeds in Obama se sakkie was. Die New York Times het selfs sy volle steun aan Obama toegesê.

Tog lyk dit of Romney se paadjie skielik stywer geword het.

Herman Toerien