Subscribe by Email

SADOU beskuldig minister van leuens in sondagkoerant advertensies

die Minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga

Die onderwysersvakbond – Sadou – wat die hoofondersteuner van die onderwyserstaking is, het die Minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, daarvan beskuldig dat sy oor onderwysers se salarisse jok. Die Departement van Onderwys het ‘n advertensie in die Sondagkoerante geplaas waarin beweer word dat ‘n onderwyser met ‘n jaar ervaring meer as 160-duisend rand per jaar verdien – wat beskryf word as ‘n 50 persent salarisverhoging sedert 2007. Die president van Sadou, Thobile Ntola, sê dit kan egter nie verder van die waarheid wees nie. Hy sê indien onderwysers se verdienste so goed was, sou hulle baie tevrede gewees het. Ntola sê hy kan nie verstaan waarom die departement leuens vertel nie.

Onderwysers by sommige voormalige Model C-skole in plattelandse gebiede in die Oos-Kaap, sê hulle word deur stakende onderwysers gekeer om na hul skole te gaan. Dit is ten spyte van ‘n hofbevel wat deur die regering verkry is wat stakende staatsamptenare belet om kollegas te intimideer.

Hoewel alle onderwys-vakbonde die staking steun, het baie leerkragte by voormalige Model-C skole vanoggend verkies om klas te gaan gee. Probleme in die Oos-Kaap word veral by Middelburg en Burgersdorp ondervind. Hoofde van verskeie vooraanstaande voormalige Model C-skole in die Kaapse Skiereiland hou vol dat onderwysers vandag weer – soos altyd – gaan klasgee. Die hoofde sê hoewel hulle empatie met die staatsdien het, is die ontwrigting by skole te erg vir leerders – veral in graad 12 waar hulle besig is met voorbereidings vir die matriek-eksamens.

Baie skole in die land bly vandag gesluit met onderwysers wat voortgaan om aan die staatsdiensstaking deel te neem. Minder werkers het verlede week in die Wes-Kaap van die werk af weggeblyu as elders in die land.