Subscribe by Email

SA styg op ‘n indeks – uiteindelik!

Nadat Suid-Afrika vanjaar al op verskeie van die vernaamste indeks soos die korrupsiepersepsie-indeks, die wêreldvredesindeks, die sg piesangrepubliek-indeks en die persvryheidsindeks die kreeftegang gegaan het, is daar uiteindelik goeie nuus. Suid-Afrika het op Insead se innnovasie-indeks sy posisie effens teenoor verlede jaar verbeter.

Innovasie word as ‘n belangrike bate vir ekonomiese vooruitgang beskou, maar dui nie die sterkte van ‘n ekonomie aan nie.

Suid-Afrika beklee op hierdie indeks die 54ste posisie teenoor die 59ste plek verlede jaar. Suid-Afrika word op hierdie indeks slegs deur een Afrikaland, Mauritius, geklop, wat die 49ste plek ingeneem het.

Die voorste lande op die indeks is Switserland, Swede, Singapoer, die VK, Nederland, Denemarke, Hong Kong, Ierland, die VSA, Luxemburg, Kanada, Nieu-Seeland, Noorweë, Duitsland, Malta, Israel, Ysland, Estland, België, Suid-Korea, Oostenryk, Australië, Frankryk, Japan, Slowenië, Tsjeggië, Siprus en Spanje.

China is in die 34ste posisie en Rusland in die 51ste posisie.

Die Brics-lande wat swakker as Suid-Afrika vaar is Brasilië (58) en Indië (64). 

Verskeie van hierdie lande, Ierland, Ysland, Siprus en Spanje tel onder die Europese lande wat met die Europese ekonomiese krisis die wit vlag gehys het, terwyl ekonome glo dat Slowenië volgende aan die beurt sal wees.

Hoofbron: http://www.globalinnovationindex.org/gii/main/fullreport/files/Global%20Innovation%20Index%202012.pdf