Subscribe by Email

SA se aandag nou op Cheetahs en Stormers

In wat as die grootste verassing in vanjaar se Super 15 beskou kan word, het die Oos-Kaapse Aspoestertjiespan, die Kings, gisteroggend die Brumbies wat bo-aan die punteleer is, geskok deur gelykop te speel.

Die Aussies was juis breëbors deur die sukses wat die voormalige Springbokafrigter, Jake White Doer Onder behaal het na hy in Suid-Afrika ‘n koue skouer gekry het.

Om sout in die wonder te vryf, het die Oos-Kapenaars vier keer gaan druk teenoor die Brumbies se twee, en dit met 35 persent balbesit.

Die eindtelling was 28 elk nadat die Kings in beseringstyd oorgebars het, en die drie gekroon is. Met spangees en spanpogings, gelaai met onderskatte spelers, kan die Kings vanjaar nog ‘n paar opskuddings uit die hoed trek.

In Durban het die Haaie die Crusaders met 21 – 17 geklop, na die Haaie ook teen die einde sterk teruggekom het, en dié ene uit die braaipan kon sleep. Die Crusaders het die enigste drie van die wedstryd gedruk. Die Haaie is nou derde op die punteleer.

Sui-Afrikaners se belangstelling is in die afwesigheid van die Bulle wat vandag ‘n loslootjie het, op die wedstryd tussen die Cheetahs en die Stormers in Bloemfontein gerig.

Die Cheetahs draf op die veld met die nuus dat hul gewilde uitvoerende hoof, Gerda von Solms, onverwags oorlede is.

Die Cheetahs het vandag twee stelle teenstanders op die veld – die Stormers, en hulle self. Die Cheetahs is stert in die lug na vier agtereenvolgende oorwinnings, maar die koue syfers vertel dat die teenstanders wat die onderspit moes delf, onderaan die punteleer ploeter.

Met die diepte waaroor die Stormers beskik sal dit wensdenkery wees om te meen beserings het ‘n swakker span Kaapse besoekers tot gevolg.

Die wedstryd kan baie maklik op losskakel bepaal word, en baie sal veral van die Cheetahs se Burton Francis afhang. Die Cheetahs het die afgelope klompie seisoene menige wedstryd met mamparraskoppe weggeskop, en dié kwaal het op die oog af einde se kant toe begin staan toe ‘n rits beserings Francis skielik uit die watte gehaal het. In sy eerste wedstryd, teen die Rebels, het hy op ‘n nat veld meestal takties goed geskop, maar ook ‘n paar keer pasellabesit vir die Rebels gesool – wat dit gelukkig ook verkwansel het.

Francis het te kenne gegee hy beplan om weer te skop, hoewel hy die bal ook wil laat loop – dit wat die Cheetahs weer goed begin doen en baie vriende besorg.

Dit sal Francis loon om te weet dat die Stormers sy spel goed ken, en agterlangs wag Gio Applon en Jaco Taute juis vir dié pasellabesit. Beide Taute – vir die Leeus, en Applon vir die WP en Stormers, het in die verlede wedstryde teen die Cheetahs met dié manna wat hul kant toe gekom het op hul koppe omgekeer.

Herman Toerien