Subscribe by Email

SA lewer een van wêreld se top tien argeologiese vondste in 2012 op

‘n Gekeepte stok wat 24 000 jaar oud is en tekens van gif bevat, is as een van die Amerikaanse argeologiese tydskrif, Archaeology se top tien ontdekkings vir 2012 gelys.

Die vonds word juis in die Januarie / Februarie 2013-uitgawe van die tydskrif bespreek.

Wat dié stok so besonder maak, is dat dit die oudste voorbeeld is waar die mens gif gebruik het. Die stok is vermoedelik gebruik om gif aan pylpunte te smeer, baie soos die San steeds doen.

Die stok is reeds in die 70-gerjare in die Border-grot op die grens tussen KwaZulu-Natal en Swaziland gevind, maar die spore van die gif is eers vanjaar vasgestel.

Onder die ander ontdekkings onder die top tien is die ontdekking dat die Neandertal plante selektief vir medisinale doeleindes uitgesoek het, oorblyfsels van gebakte potte van 19 000 tot 20 000 jaar oud uit China en die oudste graveerwerk in Europa wat minstens 37 000 jaar oud is.

Suid-Afrika het vanjaar ook ander besondere ontdekkings opgelewer.

‘n Suid-Afrikaanse argeoloog, prof. Marlize Lombard van die Universiteit van Johannesburg, het saam met dr. Miriam Haidle van die Heidelbergse Akademie in Duitsland vasgestel oor hoeveel ontwerpersvaardighede die vroeë mens moes beskik het.

Die projek, wat deur die Duitse Tübingenuniversiteit geborg is, het veral na die ontwerp van die pyl en boog gekyk.

Na raming het die mens in die hedendaagse Suid-Afrika sowat 64 000 jaar gelede die vervaardiging van die pyl en boog bemeester. Presies hoeveel vaardigheid dit geverg het, blyk daaruit dat tien verskillende soorte gereedskap nodig in om die pyl en boog te maak, en dat sowat 22 materiale en nog drie halfverwerkte materiale nodig is om die boog te maak.

‘n Vroeëre vonds deur ‘n span navorsers onder die leiding van prof. Lyn Wadley van Wits by die Sibudugrot in die noorde van KwaZulu-Natal, toe oorblyfsels van pyl en boë van 64 000 jaar gelde gevind is, maak ‘n belangrike deel uit van die jongste navorsing. Prof. Lombard was toe deel van die span. Met dié vonds is die ontwikkeling van die pyl en boog met minstens 20 000 jaar teruggeskuif.

Die mens het ook in die teenswoordige Suid-Afrika die eerste keer moderne kognitiewe gedrag ontwikkel, aldus ‘n studie wat pas in Journal of World Prehistory, gepubliseer is.

Prof. Christopher Henshilwood van Wits en sy span het die artikel gebaseer op die bestudering van gravures en artefakte veral by Stilbaai en Howiesonspoort. Dit behels verskillende tydvakke uit die Middelsteentydperk. By Stilbaai het die tegnologiese ontwikkeling sowat 70 000 tot 75 000 jaar gelede plaasgevind, terwyl dit by Howiespoort sowat 60 000 tot 65 000 jaar gelede plaasgevind het.

Onder die ontwikkelings wat waargeneem is was die ontwikkeling van klip-pylpunte vir pyl en boë, juweliersware in die vorm van skulpe en die maak van gravures.

Voorheen is gemeen dié tegnologiese ontwikkeling het eers in die afgelope 40 000 jaar plaasgevind, en wel in Europa.

Herman Toerien

Foto: Die “gifstok”, heel regs. Foto: Francesco d’Errico en Lucinda Backwell, Archaeology