Subscribe by Email

Rugbywêreldtoernooi “geskud”

Die wêreldbekertoernooi in Nieu-Seeland het miskien nog nie vir baie opskuddings gesorg nie, maar ‘n paar skuddings as gevolg van aardbewings het wel voorgekom – op beide die Noord- en Suid-eiland.

Die skuddings is betreklik lig, en kom in meer as ‘n week waar daar geen skudding van M 6 of sterker was nie. Trouens, die sterkste die afgelope week was ‘n skudding van M 5.7 wat Bonin-eliand suid van Japan geskud het.

‘n Ongewone verskynsel is die twee ligte skuddings wat noord van die Eurasiese vasteland plaasgevind het. ‘n Tweede interessantheid is dat Alaska nou ‘n paar ligte skuddings na die “punt” van dié Amerikaanse deelstaat naaste aan Siberië beleef het. Dis gewoonlik ‘n stabiele streek, en skuddings in dié omgewing kan aangekondigde planne om ‘n tonnel tussen Siberië en Alaska te grawe, effe in die war stuur. Kalifornië is ook buitengewoon vol trillings in die lig daarvan dat daar betreklik lanklaas werklike groot skuddings aan die Japan-kant van die Stille-Oseaan voorgekom het.

Die skuddings in en om Nieu-Seeland is nie werklik ‘n verrassing nie. Die eilandgroep lê op ‘n gebied waar twee stelsels wat tot onlangs gereeld werklike groot aardbewings beleef het, by mekaar aansluit.

Die baie aardbewings op die skiereiland van Alaska suid van Alaska en sy verlenging van eilande, gaan gepaard met vulkaniese aktiwiteite by Mount Cleveland op een van hierdie eilande.

Op 15 Oktober verskyn ‘n groep Italiaanse geofisici weer voor die hof in L’Aquilla. Hulle het versuim om ‘n groot aardbewing ‘n paar jaar gelede te voorspel wat ‘n hele aantal lewens en baie skade tot gevolg gehad het. Hulle het wel voorgestel dat die bouregulasies in die omgewing aansienlik strenger gemaak word. Wetenskaplike oor die hele wêreld is ontsteld omdat hulle meen dat aardbewings ten spyte van intensiewe navorsing nie voorspel kan word nie. Boonop was die aardbewing “net” M 6.3, teenoor die M 6.5 van die aardbewing wat Tulbach en omgewing geskud het en veel minder dood en verwoesting gesaai het.