Subscribe by Email

Rugbyondersteuners Doer Onder kwaad vir SA-skeidsregters

As gedink is die Vrystaat-ondersteuners is boos vir Marius Jonker se stiefregter-optrede teen die Cheetahs in hul Super-wedstryd teen die Sharks, het hulle nog nie gesien hoe sis die Aussies Doer Onder van woede nie.
‘n Artikel wat redelik oop kaarte oor Jonker se sukkelvertoning speel, het in ‘n ommesientjie meer as 300 leserskommentare op die Internet ontlok. Die meeste kommentare lui dat Suid-Afrikaanse skeidsregters die afgelope twee weke blatant in die guns van die Bulls en die Sharks geblaas het, om hul aanspraak op die uitspeelrondtes te verstewig – en natuurlik ten koste van Australasiese spanne.
Maar dit is nou Jonker wie se derms uitgeryg word. In ‘n ander artikel verlede jaar is bespiegel dat Jonker van die Suid-Afrikaanse skeidsregterspaneel verwyder gaan word weens sy swak optrede met die fluitjie, wat soos dit gestel is, sy land se reputasie deur die modder gesleep het.
Baie ironies, twee jaar gelede het Jonker ook die fluite hanteer toe die Cheetahs en die Sharks in ‘n halfeindstryd in Durban gespeel het. Die Cheetahs het die wedstryd naelskraap gewen, en toe was die Shark-ondersteuners woedend vir Jonker.
In Suid-Afrika is dit nie etiket om die skeidsregter te blameer nie. Trouens, dit word as onsportief en eintlik swak maniere beskou. Maar wat van, as die skeidsregter werklik skelm was? vra ‘n sportskrywer verwysend na die SA skeidsregters en hul kantlyn-assistente se woeste flaters die afgelope twee weke.
Iets waaroor die Aussies byvoorbeeld galbitter is, is die rooi kaart wat Shane O’Connor van die Waratahs op die lyf geloop het in hul onlangse wedstryd teen die Bulls. Skeidsregter Craig Joubert moes hom op die lynregter verlaat wat volgehou het hy het gesien hoe O’Conner sy kop gebruik. Daar was egter geen so ‘n kopstamp nie. Toe O’Conner die trekpas gekry het, was die Waratahs in ‘n uitstekende posisie om die wedstryd te wen.
Op hierdie artikel – ‘n Suid-Afrikaanse artikel is ook meer as 300 kommentare. Die Suid-Afrikaners is ook kwaad, hoewel ‘n paar meen Suid-Afrika is nou al so dikwels deur die Australiese skeidsregters geboor, ons kan maar net sowel nou die voordeel kry.
Trek die Cheetahs boonop nog onder die Suid-Afrikaanse spanne meer dikwels die kort lootjie?
Die afgelope twee weke het dit nogal so gelyk. Teen die Bulls is die hele Cheetahspan vir onkantspel geblaas, na die bal deur ‘n Bulls-speler geraak is en die Cheetahs dus aan kant was. Hoe is dit moontlik dat die skeidsregter die enigste persoon in die stadion was wat dit nié gesien het nie? Tot RSG se radiokommentator was uit die veld geslaan. Voorheen het die Cheetahs ook baie rede gehad om oor Pro Lekoetle te kla, beide as skeidsregter en vlagman.
Dit is werklik tragies dat van spelers ‘n hoë professionele standaard vereis word, maar alles kan ongedaan word deur ‘n onbekwame skeidsregter wat deur sy fluitjie asemhaal, of nog erger, blatant bevooroordeeld is.

One Response to Rugbyondersteuners Doer Onder kwaad vir SA-skeidsregters

  1. Andre Lourens

    Augustus 19, 2014 at 4:59 pm

    Hoekom raak die swakste skeidsregters TV skeidsregters – hul maak dit bitter onplesierig om rugby te kyk – die blinde ou wat 19/8/2014 die SA Skolespan teen Wallis die beslissings moes maak is weereens ‘n skitterende voorbeeld van VROT beslissings – na beide kante toe, maar two wrongs don’t make a right. SIES ek skaam my vir die blinde bliksems wat week na week wegkom. Skeidsregter is moeilok, maar magtig om twintig keer te kyk en dan nog steeds ‘n verkeerde besluit te neem!!!!!