Subscribe by Email

Rugby: Om te kan skop

Jare gelede had Dawie Snyman ‘n skitterende losskakelwedstryd agter die blad. Dok Danie Craven wens hom na die wedstryd geluk, maar noem toe dat hy, Dawie, in daardie wedstryd ‘n groot flater begaan het.

Dawie val vir Dok in die rede met: “Ek weet, daardie keer toe ek die bal vanuit my eie kwartgebied uitgeskop het…”

Dit verander nie werklik aan die verstandhouding dat ‘n losskakel of enige persoon wat die skoonmaakwerk moet doen, dit byna altyd sal doen as sy eie span in sy eie kwartgebied onder druk is nie. Maar dan duik daardie geleenthede op wanneer die hele veldplan so uiteenval dat die laat loop van die bal byna seker ‘n drie gaan oplewer, of minstens baie veld gaan wen.

Wanneer om te skop, en wanneer om nie te skop nie, is nie ‘n vraag met ‘n maklike antwoord nie. Die omstandighede verskil net te veel.

Daar is egter ‘n vername vereiste: Wanneer ‘n span met skopplanne op die veld draf, moet hy ‘n skopper hê wat vernietigend kan skop. En selfs dan, moet skopwerk nie die eerste gedagte wees nie – dit moet in ‘n situasie blyk die beste opsie te wees. En as geskop word, moet dit met ‘n plan wees.

Kom ons neem Piet Visagie, die Springbokke se skoppende losskakel wat die vlugvoetige Jannie Barnard uit die Springbokspan gehou het, se laaste wedstryd. Griekwas, Piet se span, het teen die destydse Suidwes gespeel en was besig om die wedstryd te verloor. Kort voor die einde breek Piet sy been, en omdat reserwes destyds nog nie in beseerde spelers se plek kon opkom nie, skuif die vleuel Koos Waldeck in na losskakel. Waldeck het in die rukkie wat hy losskakel gespeel het, twee keer die bal gekry, en beide kere drieë gemaak wat Griekwas die wedstryd uit die kole help krap het.

Kortom, ‘n losskakel wat kan skop, is nie noodwendig ‘n wedstrydwenner nie.

Die Cheetahs, eens bekend as ‘n span wat hardlooprugby soos min kan speel, loop nou al meer as ‘n dekade deur onder “taktiese” skoppe wat teenstanders gebruik om drieë van te druk. Selfs die kwiksilwer Kennedy Tsimba, in niemand se boekie iets anders as ‘n skitterende hardlopende losskakel nie, moes sien hoe ‘n span soos SWD teen Vrystaat ‘n drie van een van sy mamparraskoppe druk – een van die talle sogenaamde stroomop-drieë wat die Cheetahs afstaan.

Saterdag, teen WP, was dit so hitte-titte weer so toe die WP met so ‘n pasella-besit met ‘n laaste aangee die bal laat val het, anders was dit ‘n langafstand-drie. In daardie stadium kon dit die WP nie net ‘n voorsprong besorg het nie, maar sou dit in alle waarskynlikheid ‘n wendrie gewees het.

Trouens, die Cheetahs het al ervaar dat hul teenstanders spesiaal spelers in posisies kies om juis van hierdie besit strooptogte te loods. Vroeër vanjaar het die Lions teen die Cheetahs die wisselvallige Kiwi, James Kamana opsigtelik vir een doel ingesluit – om met hierdie pasella-besit dividende te verreken. En dit het gewerk, soos wat die WP al met groot vrug vir Gio Applon teen die blikore ingespan het.

Onlangs het Heinrich Brüssouw in ‘n toets ‘n skitterende dwarsskoppie geloods wat op ‘n drie uitgeloop het. Hy moes ‘n boete betaal omdat voorspelers belet word om te skop. Dit is bietjie oordrewe, want soms het ‘n voorspeler nie twee linkervoete nie; voorspelers is dikwels in beter posisies vir aanvallende skoppies, soos wat Rassie Erasmus eens gewys het. Hoewel minder suksesvol, het van Tokkie Kasselman se grondskoppies ook pandemonium gesaai. Dit was ook niks vreemd dat manne soos Frik du Preez, Jan Ellis, Morné du Plessis en ander skitterende skoonmaakskoppe onder druk geloods het nie. Ashley Johnson beland gereeld in situasies waar hy terugval en aanvallende skoppe bymekaar maak, en hoewel hy dit meestal as aanvalsgeleenthede gebruik, sal dit onverantwoordelik wees as hy in sekere situasies nie self skop nie. ‘n Bal wat onder druk na ‘n beter skopper laat loop word, kan nog aangeslaan, of die bal kan onderskep word.

Vandag skryf ‘n rugbyskrywer dat kritiek op ‘n speler se skoppery (Lionel Cronjé s’n, WP) in die konteks van moderne rugby waarskynlik argaïes is. Maar is dit so?

Hoekom weet die All Blacks dit nie? Hoekom weet die Australiese Super-spanne dit nie?

Einste Dawie Snyman het Springbok geword voor hy provinsiale kleure kon behaal omdat die WP-keurders aan die skoppende losskakel Mike Lawless geklou het. Dawie is deur dieselfde keurders gekies wat van Piet Visagie ‘n vaste instelling in die Springbokspan gemaak het. Saterdae het die Springbokke met skoppe gewen, Woensdae met drieë en harlooprugby. Dis egter bietjie van appels met pere vergelyk.

Skoppe as aanvalswapen is nie altyd verkeerd nie. Naas Olivier en Bjorn Basson het ‘n dodelike kombinasie gevorm om met perfekte dwarsskoppe die sneltrein in besit te stel. Pierre Spies (snr) se netbaldrie wat die Vrystaat hul eerste proesel Curriebeker ontsê het was van ‘n dwarsskop. Later, danksy ‘n Meyer Bosman-skoppie het die Cheetahs die rolle omgeruil.

Die oomblik wanneer ‘n taktiese skop die voet verlaat tree ‘n mate van onsekerheid in. Dit bring ‘n mate van ewekansigheid in die spel. Dis nie noodwendig ‘n swakker opsie as die bal in hand hou, en besit beskerm nie. Die bal kan byvoorbeeld in ‘n hardlopende agterlynbeweging laat val word, die ander span se verdediging kan ondeurdringbaar wees, en hulle het dalk iemand wat baie doeltreffend balle kan steel, of in ‘n beweging is die speler wat die bal moet ontvang dalk voor die baldraer. ‘n Breekskoppie is dikwels ‘n aantreklike opsie om die bal anderkant die verdediging te kry, en omdat die verdedigende span dan moet omdraai, lyk dit dikwels na ‘n aantreklike opsie.

Die verdedigende spanne het egter gewoonlik ‘n speler of twee op die kruisverdediging juis vir hierdie doel, en dit beteken dikwels besit afstaan, én dat die span wat geskop het, skielik moet omdraai.

Af en toe gebeur dit, soos in die dae van De Wet Ras, dat een span ‘n skopper het wat doodgewoon verder kan skop as die skoppers van die ander span. Doodgewone dryffings beteken dat die span wat die verste kan skop, die meeste veld wen. Deesdae is daar min spanne wat nie agterlangs iemand het wat nie ‘n kanonpoot het nie. Boonop verseker die reël dat die spel na die skopplek teruggeneem word as die bal oor die doodlyn rol dat sulke skoppe hul angel grootliks verloor het.

Dan, met die uitskopreël, word geteoretiseer, om die bal “in die hoeke” te skop en die verdedigende span onder druk te hou. Die teorie is dat die speler wat so ‘n bal ontvang, dit uitskop, maar omdat hy naby die kantlyn is, weens die skerp hoek nie veel afstand sal kry nie. Die span wat die aanvanklike skop geloods het, kry dan die lynstaaningooi nie baie ver nie van die verdedigende span se doellyn.

Daar is egter so baie voorbehoude dat hierdie taktiek selde afkom. Die speler wat die bal in die hoek skop, moet seker wees daar is genoeg spelers aan kant om die bal te jaag en die verdediger sonder opsies te laat om effektief te kan skop. Te dikwels kom die skopper alleen, en bietjie laat op die toneel aan, en die ander span se ontvanger het min moeite om hom te pypkam. Wanneer ander verdedigers weer aan kant is, is die speler reeds op volspoed, en het ‘n klomp van sy maters ingeval om die beweging verder te voer.

Daar is ook ander redes waarom hierdie soort skoppe nie so ‘n gewaarborgde sukses soos van ouds is nie. Die balvanger mag nie uit die lug geneem word nie, en het hy eers die bal in hand moet hy eers genoeg tyd kry om die bal te plaas, sodat die besit wat so bekom is eers beskerm word. Skoonvang bly ook ‘n opsie.

Die moderne konteks is juis ontwerp om die baldra-element van die spel bo skoppende spel te bevoordeel. Dit het die Kiwi’s soos ‘n handskoen gepas, waar die losskakel-binnesenter-kombinasie eerder as eenheid, en uitruilbare eenheid beskou is as die senterkombinasie.

Dit beteken egter nie dat die “argaïese” soort rugby wat gespeel is, nie ook plek vir die vlugvoetige losskakels gehad het nie. Lank voor Phill Bennet nog die Walliese trui oor die kop getrek het, het hy die rugbywêreld in vervoering gehad met sy vermoë om teenstanders met voetwerk te laat lug gryp. Wie, wat hom in daardie era in aksie gesien het, sal ooit vergeet hoe hy skynbaar regop in die lug spring, skyn-hardloopbewegings met sy voete maak en net daar weer afkom waar die kruisverdediging hom heeltemal mishardloop?

Eers later het die wêreld begin kennis neem dat hy ook ‘n vernietigende taktiese skopper is.

Suid-Afrikaanse rugby beleef egter nou ‘n fase waar gans te veel skoppe, wat kommentators doellose skoppe noem, in die middelveld afgesool word. Is daar nog dwars-wissellende lugstrome wat vangwerk bemoeilik is dit een saak, maar te dikwels is dit doodgewone besit wegskop.

Heeltemal te dikwels lyk dit of rugby gereduseer word tot die vlak waar spanne hul wenkanse bou op die verwagting dat die ander span foute sal maak. Om die foute te kan maak, moet die span die besit hê.

Maar besit weggee is nie primêr waaroor rugby gaan nie.

Herman Toerien